KYK: Tiaan seil oor hekkies in Swede
Tiaan Haasbroek (17) het aan die Göteborg Youth Games en Helsingborg Invitation deelgeneem en in beide goud verower in die 400m hekkies.
POLOKWANE – Toe Tiaan Haasbroek (17) op 15 Januarie vir sy eerste dag by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé aanmeld, het hy nog nie geweet 2025 sou só ‘n uitsonderlike jaar wees nie.
Kort na die skooljaar begin het, het Tiaan aan die ASA- en Sasa-kampioenskappe in Kaapstad deelgeneem.
Lees ook: Hekkies-silwer by SA’s vir Tom Naudé se Tiaan
Hy het brons gewen in die 400m hekkies by die ASA’s, en silwer met ‘n persoonlike beste tyd van 53.13 sekondes by die Sasa’s.
In die 110m hekkies het hy sewende geëindig met ‘n tyd van 14.13 sekondes.
In April het hy weer sy staal gewys tydens die Sasa- en LSEN Nasionale Kampioenskappe in Bloemfontein, waar hy silwer losgehardloop het in die 400m hekkies in die o/17-item.
Sy prestasies het internasionaal aandag getrek, en hy is deur World Wide Scholarships (WWS) genooi om Suid-Afrika in Swede te verteenwoordig.
Lees ook: Tommies se Tiaan droom van Europa-wenstreep
Daar het hy aan die Göteborg Youth Games en Helsingborg Invitation deelgeneem – twee van die grootste baanbyeenkomste in Skandinawië – en in beide goud verower in die 400m hekkies.
“Ek het nie verwag om te wen nie,” sê Tiaan. “Maar toe ek besef ek is eerste oor die wenstreep, was ek baie opgewonde.”
Swede het vir hom heelwat verrassings ingehou. “Die son skyn tot 20 ure per dag en dit was ‘n groot aanpassing. Die publieke vervoer, geboue en die kultuur was besonders.”
‘n Onverwagse hoogtepunt was toe hy op O.R. Tambo lughawe vir Wayde van Niekerk raakloop en op dieselfde vlug as die wêreldrekordhouer gereis het.
Maar Tiaan is nie net ‘n ster op die atletiekbaan nie, hy is ook ‘n ywerige en talentvolle krieketspeler.
Hy speel as openingsbouler en kolf vierde of vyfde vir Limpopo op nasionale vlak. Sy liefde vir krieket het begin toe hy baie jonk was, en by Eagles Cricket Academy aangesluit het.
“Vir my eerste verjaarsdag het my ouer broer vir my ‘n plastiek krieketkolf met ‘n tennisbal gekoop, en ek het sedert ek vyf jaar oud was afrigting by Dewald Weterman gekry.”
Hy onthou met trots toe hy tydens verlede jaar se Merensky-week vyf paaltjies geneem het teen Hoërskool Eldoraigne.

Nog ‘n hoogtepunt? “’n Honderdtal in ‘n T20-wedstryd,” vertel hy trots.
Hoewel dit uitdagend is om atletiek en krieket te balanseer, sê hy: “Ek geniet altwee en leer om die druk te hanteer – kougom kou, rustig bly en net my beste gee.”
Tiaan mik nou om in 2026 weer ‘n medalje tydens die nasionale kampioenskappe te verower, iets waarvoor hy beslis hard oefen.




