Oosskool se Lu-vé dans haar pad na Milan
Lu-Vé Venter het onlangs gekwalifiseer om in November Suid-Afrika by die International Dance Organisation Championships in Milan te verteenwoordig.
POLOKWANE – Jaar na jaar bekoor Lu-Vé Venter die Osies Got Talent-gehoor met haar stem en dansvermoë.
Dié 14-jarige Oosskool-leerder se liefde vir dans het diep wortels: Haar ma, Olivia Venter, het self gedans en later haar eie dansskool, Fun Dance Company, begin. Dit is juis daar waar Lu-Vé se passie begin en verder gegroei het.
“Ek het met ritmiese gimnastiek begin en beoefen tans ballet en akrobaat. My gunsteling bly ritmiese gimnastiek. Ek het nie vanjaar deelgeneem nie, maar beplan om volgende jaar weer te probeer,” vertel sy.

Lu-Vé oefen daagliks, na skool tot soms 18:30, en selfs Saterdae en vakansiedae indien nodig. Sy dans by haar ma se Fun Dance Company en volg ook balletklasse by Melissa Gilfillan.
“Al my style is moeilik, en sonder aanhou en uithou sou ek dit nie kon bemeester nie. Ek hou aan, al sukkel ek en soms mismoedig raak. Om tyd vir alles te maak is nie altyd maklik nie, en dit beteken ek mis soms klasse. Dit vra selfdissipline om my werk in te haal en ekstra te oefen,” sê sy.

Al die harde werk het egter vrugte afgewerp: Lu-Vé het onlangs gekwalifiseer om in November Suid-Afrika by die International Dance Organisation Championships in Milan te verteenwoordig.
Sy het aan die ASSA Championship League 2025 deelgeneem, een van Suid-Afrika se moeilikste kompetisies waar dansers vanaf 12 jaar die kans kry om vir Protea-kleure te kwalifiseer.

Ná twee rondes moes sy dubbelsyfers in punte behaal om die nasionale finale te haal, waar sy met ‘n eerste plek weggestap het.
“My inspirasie is Sofia Raffaeli. Haar passie vir ritmiese gimnastiek laat ‘n vuur in my brand,” vertel sy.
Om na Milan te reis, beloop sowat R50 000 per danser, wat reiskoste, verblyf en kompetisiefooie insluit.
Help Lu-vé om in Milan te dans: Koop kaartjies vir dié geskenkpakke en gee haar drome vlerke




