PHS se Mea dryf vierde plek los tydens 72-gat kampioenskap
Mea Swart het onlangs 'n vierde plek met +3-baansyfer behaal in die SA Vroue 72-gat Kampioenskap.
POLOKWANE – Mea Swart het lankal reeds bewys sy is tuis op die gholfbaan en staan nie terug vir haar teenstanders nie.
Dié leerder van Hoërskool Pietersburg het vroeër in Oktober aan die SA Vroue 72-gat Kampioenskap by die Koro Creek Bushveld Golf Estate deelgeneem.
Sy sê dit was die eerste keer wat sy aan dié toernooi deelgeneem het.
Lees ook: VS se setperke in Mea Swart (16) se visier
“Die toernooi strek oor drie dae met 18 gate op die eerste en derde dag en 36 gate op die tweede dag. Ons kon egter net 18 gate op die tweede dag speel, aangesien daar weerlig was,” vertel sy.
Mea se liefde vir gholf het reeds in die laerskool begin nadat haar vriend, Morgan Allison, wat self ‘n bedrewe gholfspeler is, haar genooi het om saam met hom te speel. Kort voor haar 13de verjaarsdag het sy haar eie stel stokke gekry.

“Tydens die afgelope toernooi het ek met my setwerk gesukkel en in baie van my sethoue se lyne getwyfel en ook nie die bal hard genoeg geslaan om hom in ‘n gat te kry nie. Ek het dit oorkom deur net by my roetine te hou en my lyne te vertrou,” vertel Mea.
Haar spanmaats was Rinao Makhado en Desi Earle, wat ook as die spanbestuurder opgetree het. Mea sê sy het met hierdie toernooi geleer om kalm te bly en te vergeet wat gebeur het as sy ‘n slegte gat gespeel het.
Lees ook: Mea Swart wins Junior Classic as the only girl in the field
“Veral op die laaste dag toe ek na die eerste vier gate agt oor baansyfer was en vir die laaste 14 gate gelyk gespeel het. Vir die toekoms wil ek ‘n beter ingesteldheid hê en nie in myself twyfel nie, veral omdat ek bewys het ek kan teen die beste meeding. Ek werk ook hard om aan die begin van November by Champ of Champions se nasionale finale kampioenskappe die beker na die Polokwane Gholfklub terug te bring.”
Mea het ‘n vierde plek met +3-baansyfer behaal in die SA Vroue 72-gat Kampioenskap.
“Hierdie sukses sou nie vir my moontlik kon wees sonder my ouers wat my ondersteun, my oupa wat my oral heen ry, my afrigter Mike Baylis, Hoërskool Pietersburg, my unie en die gholfklub wat my altyd ondersteun nie.”




