Schools

Osies gholfspan kraai koning op Super 12 setperk

Oosskool het uiteindelik as wenners van die IPS-puntekompetisie uit die stryd getree - ‘n formaat waarin spelers op hul eie voorgee speel.

POLOKWANE – Oosskool se o/13-gholfspan het tydens die skoolvakansie herinneringe vir ‘n leeftyd geskep toe hulle die Super 12-gholftoernooi op die wêreldbekende Gary Player Gholfbaan by Sun City gewen het.

Die span, bestaande uit Zach Allison, Nathan Faver, NJ Pretorius en Liano Viviers, het saam met 110 ander spelers van 23 skole landwyd meegeding.

Oosskool het uiteindelik as wenners van die IPS-puntekompetisie uit die stryd getree – ‘n formaat waarin spelers op hul eie voorgee speel.

Een van die vele hoogtepunte van die toernooi was toe die jong Zach, tans in gr. 5, die eerste plek in die IPS-kategorie behaal het.

Zach Allison spog met ‘n individuele wen by die Super 12.

“Ek het dit glad nie verwag nie, dit was ‘n groot verrassing. My voorgee is baie hoog en dit het my gehelp om makliker punte aan te teken,” het hy vertel.

In die Zero-kompetisie het Oosskool 12de geëindig, maar in die Limpopo-liga (ook ’n Zero-formaat) het die A-span eerste geëindig in die seuns A-afdeling, die B-span tweede in die B-afdeling, en die meisiespan het ’n indrukwekkende vierde plek behaal – in hul heel eerste deelname.

Gholfafrigter by Oosskool, Heinrich Schoeman vertel dat uit die A-span, slegs een speler in gr. 7 is, wat die toekoms nog meer belowend laat lyk vir die Osies.

Wat dié sukses egter groot betekenis gee, is die hegte pa-en-seun-betrokkenheid. Al vier seuns se pa’s is self bedrewe gholfspelers en ondersteun hul seuns op én van die gholfbaan af.

“Dit is ‘n groot voorreg om saam met jou seun gholf te speel. Dis ‘n regte pa-en-seun ding,” vertel Nathan se pa, Ernest.

Hy noem verder dat hulle probeer om te minste een keer per week saam gholf te speel.

Oosskool se eerste gholfspan is NJ Pretorius, Zach Allison, Nathan Faver en Liano Viviers.

“Ek glo harde werk is die resep vir enige sukses. Gholf is nie hierdie kinders se enigste of hulle hoofsport nie, hulle speel ook rugby, hokkie, krieket en tennis, wat hierdie prestasies nog meer merkwaardig maak.”

NJ se pa, Jacques, beaam dat gholf ‘n wonderlike geleentheid bied vir bande bou tussen pa en seun.

“Ons gesels lekker op die baan en hy leer sommer baie lewenslesse op die baan ook. Ons speel veral gereeld aan die einde van die jaar saam, wanneer dinge minder besig is.”

Hy vertel dat die onderwysers se passie beslis bydra tot die seuns se entoesiasme vir dié sport. Liano se pa, ook Liano, sê hy sien uit na elke oefensessie saam met sy seun.

“Sy passie vir die spel, die oefeninge en die vriendskappe wat hy op verskillende bane vorm, is sy resep vir sukses.”

Theo, Zach se pa, sê hy is besonder trots op sy seun se prestasie en probeer gereeld saam met Zach en sy broer, Morgan, speel.

“Die tyd saam is vir my kosbaar.”

Jacques wys ook uit dat die Gary Player-baan een van die vyf moeilikste in die land is.

“Die seuns moes self hul stokke dra en kon nie ‘n baljoggie hê nie. Ons as ouers moes ook op ‘n afstand bly en kon nie raad gee nie. Dit maak hul prestasie net soveel meer indrukwekkend.”

Kort op die hakke van Sun City het die A-span hierdie onlangse naweek weereens hul dominansie bewys deur die Limpopo Interlaer Gholfkompetisie by Koro Creek met 28 punte te wen.

Die B-span, wat bestaan uit Sion Vogel, Ryan O’Reilly, Willem de Lange en Jano Olivier, het tweede geëindig met 17 punte, en die meisiespan – Danielle Fouché en Ashley Sibley – het vierde geëindig met agt punte.

“Ons as skool is ongelooflik trots op elke speler,” vertel Schoeman.

“Hulle werk hard, wys karakter en verdien elke bietjie van die sukses wat hulle behaal.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Maretha Swanepoel

My name is Maretha Swanepoel and I have worked at the Polokwane Review since 2012. The decision to become a journalist came at 04:00 one Friday morning while watching news of bombings in Afghanistan and I realised I wanted to be there. Some years later, I decided to rather stay in South Africa and join the industry due to my love for writing and curiosity. Even though I can write all beats, I love human interest and community news with some schools added to the mix. Telling someone’s story and using my camera to make memories is a privilege. My interests include animals (especially dogs) and mental health. I like to spend my time with my dogs and a good book. My family is important and takes second place in my heart. God is always first.

Related Articles

Back to top button