Top toekenning vir oud-Tommie Damian
Damian Pinn, 'n oud-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, is 'n bewys daarvan dat toewyding en deursettingsvermoë vrugte afwerp.

POLOKWANE – Leerders hoor dikwels dat hulle hard moet leer, maar besef nie altyd hoe waar dié raad is nie.
Damian Pinn, ‘n oud-leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, is ‘n bewys daarvan dat toewyding en deursettingsvermoë vrugte afwerp.
Damian het sy skoolloopbaan in 2018 voltooi en daarna by ACDC Express Polokwane begin werk.
Hy het onlangs die gesogte Millwright Leerder van die Jaar-toekenning ontvang – ‘n prestasie waarop hy met trots kan terugkyk.
“Na ‘n paar maande by ACDC het ek Secunda toe verhuis en by Sasol Thubelisha Myn begin werk,” vertel hy.
“Na twee jaar is ek permanent aangestel en kon ek met my vakleerlingskap in elektromeganika (millwright) begin.”
‘n Paar jaar later het hy gekwalifiseer en werk tans as instrumentasie- en telemetrie-ambagsman by Sasol.
“’n Millwright is basies ‘n kombinasie van ‘n meganiese passer en ‘n elektrisiën,” verduidelik hy.
Damian glo dat sy sukses te danke is aan dissipline en hoë standaarde.
“Ek het vir myself gesê minder as 95% vir ‘n teorietoets is nie goed genoeg nie. Hoërskool gaan nie net oor akademie nie, maar ook oor verhoudings en lewenslesse. Harde werk vandag beteken ‘n leeftyd se voordele.”
Hy beplan om nou sy diploma in telemetrie te voltooi en sy ingenieurskaart te verwerf, wat ‘n formele bewys van sy kwalifikasie is.




