Groot eer val PHS-rugbybreier te beurt
Corstiaan Vermaak is genomineer om aan die SA Rugby 0/17-Elite Speler Ontwikkelingsprogram deel te neem in Desember.
POLOKWANE – Om rugby af te rig verg kennis, dissipline en ’n aanvoeling vir hoe jong talent ontwikkel moet word.
Vir Corstiaan Vermaak, rugbyafrigter en onderwyser by Hoërskool Pietersburg, het hierdie harde werk vrugte afgewerp toe hy deur Sakkie Vermeulen, Limpopo Blou Bulle se EPD-bestuurder, genomineer is om aan die SA Rugby O/17 Elite Speler Ontwikkelingsprogram deel te neem.
Die program vind van 29 November tot 6 Desember plaas.
Vermaak verduidelik dat hulle gedurende die kamp intensief saamwerk met SA Rugby se EPD-bestuurder, Herman Maimla.
“Ons gaan spelers toets, sekere kernvaardighede afrond en hulle belyn met SA Rugby se nasionale ontwikkelingsplan. Die fokus is nie net op spel nie, maar ook op welstand en langtermynvoorbereiding.”
Die uitnodiging volg ná ’n sterk Cravenweekvertoning waar Limpopo die Pumas behoorlik laat skrik het en later ’n indrukwekkende terugvegpoging teen die Novavit Griffons opgelewer het.
“Ons voorspelerspel het uitgestaan, en dit het die aandag gevestig op watter talent ons hier het,” sê hy.
Volgens Vermaak is programme soos dié nie net ’n hupstoot vir afrigters nie, maar ook vir spelers.
“Dit gee hulle hoop, motivering en ’n proeflopie van wat moontlik is. Die verskil tussen spelers wat hierdie kampe bereik en gewone skole-rugbyspelers is eenvoudig: die wil om te leer en harder te werk wanneer ander nie wil nie.”
Hy beklemtoon egter dat die druk om te wen soms ontwikkeling kelder.
“Afrigters fokus soms net op oorwinning, en dan word basiese beginsels afgeskeep. Ons stuur dan spelers in die stelsel in sonder die nodige fondament. Hierdie program herinner ons weer aan die belangrikheid van kondisionering, strukture en basiese vaardighede.”
’n Groot deel van sukses lê ook in spelerswelstand.
“Hierdie programme leer ons dat ’n speler se fisiese én geestelike gesondheid krities is. Wat belangrik is, is dat die kennis weer teruggedra word na ander afrigters en spelers in Limpopo.”
Hoewel hy self op senior vlak afrig, glo Vermaak dat plaaslike ontwikkeling op grondslagvlak dringend meer aandag moet kry.
“Kinders moet net speel, beweeg en natuurlike vaardighede opbou voordat hulle met ingewikkelde planne oorlaai word. Kondisionering op hoërskoolvlak is een van ons grootste uitdagings. Ons sukkel om tred te hou met groter provinsies.”
Is SA Rugby genoeg doen om talent buite groot stedelike sentrums te ontwikkel?
“Nie altyd nie,” sê hy eerlik. “Afstand, tyd en finansies is groot struikelblokke, veral in Limpopo. Skole-afrigters het die grootste invloed op spelers, en hulle moet meer ondersteuning en blootstelling kry.”
Vir nou is die fokus egter op die o/17 Elite-kamp, ’n geleentheid wat nie net vir Vermaak ’n mylpaal is nie, maar ook vir Limpopo-rugby.
Lees meer oor sy rugbyreis in hierdie week se Polokwane Review.




