Ruiterkuns vloei deur dié Pieties se are
Met hul Limpopo-kleure trots op die bors, kyk die twee ruiters nou vorentoe na komende nasionale kompetisies.
POLOKWANE – Twee jong ruiters van Hoërskool Pietersburg, Chicago Ferreira en Jeanel du Toit, het onlangs ‘n merkwaardige hoogtepunt in hul sportloopbane bereik toe hulle hulle Limpopokleure in ruiterkuns ontvang het.
Dié plegtigheid is in Tzaneen gehou en bygewoon deur onder meer die Limpopo Suid-Afrikaanse Springkomitee, afrigters en medesportlui, ‘n waardige erkenning vir die harde werk wat agter elke sukses skuil.
Vir Jeanel is dit die eerste keer dat sy Limpopokleure behaal het, ‘n mylpaal wat sy met trots en dankbaarheid koester.

Chicago het dié prestasie nou reeds vir die derde agtereenvolgende jaar behaal. Beide ruiters is geloof vir hul uitsonderlike vaardighede, sportmanskap en die besondere band wat hulle met hul perde het.
Chicago, duidelik emosioneel oor die reis wat haar hierheen gebring het, erken dat haar ondersteuningstelsel ‘n onmisbare rol gespeel het.
“Niks hiervan sou moontlik gewees het sonder die liefde van my ouers, borge, afrigter Michelle Joubert en my ouma, Joysie, wat vanuit die hemel op my neerglimlag nie. En natuurlik my ride-or-die JackJack – my hartsperd.”
Vir Jeanel is hierdie erkenning meer as net ‘n toekenning, dit is ‘n kinderdroom wat vorm aangeneem het.
“Dit was ‘n droom wat waar geword het. Ek is ongelooflik dankbaar vir my ouers se onwrikbare ondersteuning en vir my afrigter, Kerry Joubert. Al die ure in die arena het werklik vrugte afgewerp. En my perd, Diva Dance, sonder haar sou ek nie hier wees nie.”
Volgens Sheri-Lee MaGuire, waarnemende president van die Suid-Afrikaanse jeugkampioenskap Limpopo, weerspieël hierdie toekennings veel meer as tegniese vaardigheid.
“Dit getuig van hul deursettingsvermoë, dissipline en toewyding om beide Hoërskool Pietersburg en Limpopo met trots te verteenwoordig,” sê sy.
Sy beklemtoon dat provinsiale kleure in perdry een van die hoogste toekennings in Suid-Afrikaanse skolesport is, ‘n bevestiging dat hierdie twee ruiters op die toppunt van hul provinsie meeding en uitblink.
Chicago en Jeanel het nie net hul sportverpligtinge nagekom nie, maar dit ook gebalanseer met hul akademie, ‘n uitdaging wat hulle met volharding en volwassenheid aangepak het.
Hul sukses dien as inspirasie vir ander jong atlete in Limpopo en toon wat moontlik is met harde werk, passie en die regte ondersteuning.
Met hul Limpopo-kleure trots op die bors, kyk die twee ruiters nou vorentoe na komende nasionale kompetisies, vasbeslote om weer hul beste te bied en die Limpopo-vlag hoog te laat wapper.




