Ek het van wiskunde gehou.
My pa het gesorg dat ek my tafels in graad 2 al behoorlik ken en dit was lekker om somme vinnig en maklik te kan doen.
Dis seker hoekom ek gedink het dat ek eendag my kinders sal kan help met wiskunde.
En ek het ook.
Ewe dapper het ek gese: “Wiskunde verander nie soveel nie. As ek saam met my kinders wiskunde van vroeg af doen, sal ek hulle verder aan ook kan help.”
Met hierdie droom, het ek my oudste getrou gehelp met sommetjies, met woordsomme en met tafels. Maar iewers langs die pad het ek en sy onderwysers se metode begin verskil en met nog twee kinders wat aandag kort, het ek opgegee en oorgegee.
Maar nou sukkel kleinsus so vreeslik met faktorisering en vereenvoudiging en trichonometrie. (Ja, hulle het dit sowaar weer teruggebring! Plaas leer hulle kinders tafels en spelling!) Sy is ‘n slim kind, maar die wiskunde-gogga ontsenu haar heeltemal. Sy bars sommer in trane uit in die middle van ‘n toets en dan kan Sussie nie eens onthou wat 2×2 is nie! Sy slaan so toe soos ‘n klei-os se jy-weet-wat.
Soos ‘n getroue ouer gaan ek ouer-aand toe. (Ons skool het ‘n legendariese problem met wiskunde al vir jare, indien nie generasies nie!)
Dis al weer ‘n vars juffertjie en ek verduidelik ewe vriendelik dat die kinders vier onderwysers en toe glad geen een verlede jaar gehad het nie. Ek prober verduidelik dat Sus getoets is en dat dit nie net ek is wat dink sy’s slim of oulik nie. Sy is die slimste van die drie en verwag daarom dat dinge sommer in haar kop sal inspring. Ek praat mooi, redeneer logies en doen ‘n beroep op die opvoeder iewers onder die blonde hare en eye-liner voor my,.
Totaal en al verniet. Sy vertel my gou-gou dat verlede jaar se moeilikheid nie hare is nie en dat sy nooit deur haar syllables sal kom as sy hulle eers die basiese moet leer nie! Skynbaar pla dit haar nie dat haar klasgemiddeld 19% is nie. Dis nie net Su swat sukkel nie. Haar raad is ekstra klasse. Dis so te se ‘n gegewe klink dit my.
Maar soos dit nou is, is die jaar al aan die gang en ek kry nie dadelik iemand nie. Maar ek is nie ontsteld nie, EK gaan vir Sus help.
Met ‘n skerp potlood en ‘n vars oefenboek loop ek myself toe trompop vas in binome en trinome. Tafels is nog tafels, maar faktorisering is nie meer faktorisering nie! Ons het die somme van ‘n kant af gevat en jy moes dit maar uitwerk. Nou is faktorisering in verskillende afdelings verdeel, daar is kortpaadjies wat g’n nugter mens kan verstaan nie!
Aan die trich vat ek nie eens nie.
Na heelwat trane en ‘n episode van oorvloedige emosies wat ‘n tweejarige sal trots maak, en nie almal van Sus se kant nie, het ek vandag besef, die ou spreekwoord is waar: as ‘n mens elke dag ‘n kalf om die stal dra, beteken dit nie dat jy die koei sal kan dra nie!
Ek moet nou maar eerlik erken: ek is ingebreek. Ek hou nie meer van wiskunde nie. Het iemand vir my ‘n nommer vir ekstra klasse? En een vir Sus?
