Skermklub is klein botteltjie, groot gif
Die plaaslike Firebird Fencing-klub het die afgelope jaar aansienlik in ledetal verminder, maar wanneer dit by kompetisies kom, moet hulle nie onderskat word nie. Die klub se onlangse prestasies sluit drie van hul lede, Michelle Butler, Caylin Duncan en Anokha van Manen wat onlangs aan die Junior Skerm Wêreldkampioenskappe in Plovdiv, Bulgarye deelgeneem het, in. …

Die plaaslike Firebird Fencing-klub het die afgelope jaar aansienlik in ledetal verminder, maar wanneer dit by kompetisies kom, moet hulle nie onderskat word nie.
Die klub se onlangse prestasies sluit drie van hul lede, Michelle Butler, Caylin Duncan en Anokha van Manen wat onlangs aan die Junior Skerm Wêreldkampioenskappe in Plovdiv, Bulgarye deelgeneem het, in.
Firebirds-skakelbeampte, Tersia Goosen, sê om vir dié kampioenskappe te kwalifiseer moet ‘n atleet onder die top vier in hul ouderdomsgroep in Suid-Afrika wees. Die skermers neem gedurende die jaar aan verskeie kompetisies deel om hul punte op nasionale vlak te bepaal en sodoende vir internasionale kampioenskappe te kwalifiseer.
“Wat die prestasie uitstaande maak, is dat Michelle en Anokha beide minder as twee jaar aan dié sport deelneem en reeds op internasionale vlak kompeteer. Limpopo is die kleinste skermprovinsie, maar steeds lewer ons internasionale vegters op,” sê Goosen.
Sy sê die reis na Bulgarye was ‘n goeie leerskool. “Al het die atlete medaljes tydens provinsiale en nasionale kompetsies gewen, het hul besef dat daar nog baie harde werk voorlê om op wêreldstandaard te kom.”
Jamie Norval skerm al ses jaar en is tans onder die agt beste skermkunsatlele in Suid-Afrika. Sy mikpunt is om aan die einde van die jaar tot onder die top drie op te skuif. “In 2015 was hy die hele jaar buite aksie as gevolg van ‘n beenbreuk en werk tans hard om die agterstand in te haal. Hy het in 2014 en 2015 Limpopo-kleure in skermkuns verwerf,” sê Goosen.
Die klub is ook trots op twee opkomende vegters wat stil-stil besig is om naam te maak. Goosen sê Rahul van Manen en Sufiya Kahn-Patel kan gerus dopgehou word. “Rahul was te jonk om op provinsiale vlak deel te neem, maar het junior- en kadetvegters vir die pret aangedurf. Sufiya het ook die oë laat rek toe sy tydens die onlangse Soweto Ope-kampioenskappe haar eerste silwermedalje ingepalm het. Wanneer haar vordering in ag geneem word, is sy die beste voorbeeld van die invloed wat skerm op ‘n kind se dissipline, konsentrasie, selfbeeld en koördinasie het.”
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com




