Protea Bisleyskietspan oefen plaaslik
Die Protea Bisley langafstandskietspan wat in Augustus aan die Bisley Wêreldkampioenskappe in Kanada deelneem, het Saterdag ‘n oefenkamp op die plaaslike militêre skietbaan gehou. Skuts oefen hoofsaaklik op militêre skietbane met die nodige fasiliteite en daar word volgens spankaptein, Henk Venter, in verskeie kategorieë, elkeen met sy eie toerusting en reëls, op papierteikens geskiet. “Die …

Die Protea Bisley langafstandskietspan wat in Augustus aan die Bisley Wêreldkampioenskappe in Kanada deelneem, het Saterdag ‘n oefenkamp op die plaaslike militêre skietbaan gehou.
Skuts oefen hoofsaaklik op militêre skietbane met die nodige fasiliteite en daar word volgens spankaptein, Henk Venter, in verskeie kategorieë, elkeen met sy eie toerusting en reëls, op papierteikens geskiet.
“Die 14-manspan neem in die F-TR (Target Rifle)-klas deel en het oor afstande van 300- tot 900 m geskiet. Polokwane is as een van die oefenkampe gekies om skuts en afrigters aan ‘n verskeidenheid weersomstandighede bloot te stel. ‘n Goeie skoot hang van ‘n skut se vermoë af om die wind korrek te evalueer en sy teleskoop en ander toerusting daarvolgens te verstel,” sê Venter.
Spanlede is selfs tydens die oefenkamp natgespuit om reën na te boots.
Kalibers wat is .223 en .308 word toegelaat met die .308 as die gewildste kategorie. “Die Proteaspan gebruik slegs .308- met herlaaide ammunisie om die nodige akkuraatheidsdvlak te verkry,” sê Venter.
Die tradisionele vorm van Bisley is met gaatjievisiere in die lêposisie geskiet en slegs ‘n skietbaadjie, handskoen en geweerband is as ondersteuning gebruik. Polokwane Observer het die geleentheid gehad om ‘n paar skote na die 300 m-teiken te vuur om eerstehandse ondervinding van dié sport te kry.
Storie en foto’s: RC Myburgh
>>rc.observer@gmail.com




