Sport

Johan spog met 500 km op Parkrun-kerfstok

Bekende veteraanatleet, Johan van Graan (71), het Saterdag opnuut geskiedenis gemaak toe hy die eerste inwoner van Polokwane en eerste Polokwane Atletiekklub­lid (PAC)-lid geword het wat 100 Parkrun-geleenthede voltooi het en sal voortaan in ‘n swart T-hemp met dié getal op die rug spog wanneer hy deelneem tot hy die volgende mylpaal bereik. “Ek het …

Bekende veteraanatleet, Johan van Graan (71), het Saterdag opnuut geskiedenis gemaak toe hy die eerste inwoner van Polokwane en eerste Polokwane Atletiekklub­lid (PAC)-lid geword het wat 100 Parkrun-geleenthede voltooi het en sal voortaan in ‘n swart T-hemp met dié getal op die rug spog wanneer hy deelneem tot hy die volgende mylpaal bereik.
“Ek het dit reggekry deur elke keer deel te neem ongeag van waar ek myself in die land bevind het.” Buiten Polokwane het hy op agt ander plekke wat Hazyview, Ballito, Johannesburg en Pretoria insluit, deelgeneem. Sy strewe is om op 20 verskillende plekke land- of wêreldwyd deel te neem om as ‘n Parkrun-toeris bekend te staan.
Benewens die Parkrun van 5 km, hardloop hy ook Saterdae van sy huis tot daar en terug wat hom 17 km op sy voete vir die dag gee, as hy nie ook gou draf om die koerant by die kafee te gaan koop nie. Weeksdae is hy daagliks soggens vir 7 km op die pad met die bekende geluid van sy hardloopskoene in sy ore.
“Dit is ‘n avontuur om op ander plekke deel te neem en roetes te vergelyk. In Ballito het dit my 12 minute geneem om tien meter te voltooi as gevolg van swaar reën die vorige nag. Die roete tussen suikerplantasies was só nat, steil en modderig dat atlete nie eens kon opkruip nie en mekaar moes opstoot waarna die laastes van die groep gedeeltelik met ‘n tak tot bo opgetrek is.
Sy totale tyd vir die 500 km is 58 uur en drie minute met ‘n persoonlike beste tyd van 30:59.
Deur die jare het Polokwane Van Graan as ‘n langafstandatleet leer ken wat die Comrades 11 keer voltooi het; as novice in 1981 en die laaste keer in 2005. Sy persoonlike beste tyd was 09:17.17 in 1992.
Hy was ook in 1994 die eerste inwoner van die stad wat die 100 myl (160,9 km) van Graskop via Sabie, Hazyview, Witrivier tot in Nelspruit voltooi het en die eerste Limpopo-atleet wat drie marathons binne 24 uur in drie verskillende dorpe voltooi het.
In 1995 was hy na voltooiing van die Comrades een van slegs drie Polokwane-atlete wat meer as 1 000 km binne ‘n jaar in amptelike wedlope voltooi het. Hy kan boonop die veel­eisende en uitdagende Haenertsburg Iron Crown Trail Run, wat hy as eerste grootgrootmeester voltooi het, op sy emmerskoplysie afmerk.
Hy roep die dae in herinnering wat dit R1 gekos het om vir ‘n halfmarathon in te skryf en ‘n volle R2 vir ‘n marathon. “Vroue was aanvanklik beperk tot maksimum afstande van 16 km en daar was geen amptelike waterpunte nie.”
Van Graan het vroeër jare verskeie wedlope gewen of was die eerste klublid oor die wenstreep en kan met ‘n persoonlike beste marathontyd van 03:14.00 spog.
Die voormalige regsdosent en -praktisyn met ‘n meestersgraad in regte wat al vier dekades draf en al baie landspaaie deurkruis het sê: “Ek hardloop vir die genot maar geniet die dissipline, toewyding en moed, net soos in die regsprofessie, steeds daagliks.”
Hoëprofiel-politici soos Jeff Radebe, beplanningsminister in die presidensie, Sandile Ngcobo, oudhoofregter van die Konstitusionele Hof en Penuell Maduna, voormalige minister van justisie was van sy studente aan die destydse Universiteit van Zoeloeland.
Met drie van sy kinders wat spesilis medie­se praktisyns is, weet hy ook hoe noodsaaklik bloedskenk is om lewens te red en het al 108 eenhede geskenk.
Sy drafskoene sal waarskynlik nie in die nabye toekoms finaal onder die bed ingestoot word nie, want draf is deel van sy lewe en die volgende mikpunt, die voltooiing van sy 250ste Parkrun – hopelik binne drie jaar in sy bereik.

Storie en foto: ELNA ESTERHUYSEN
>>observer.elna@gmail.com

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button