Man van staal Johan (70) seëvier op Iron Crown
"Ek het besluit dat dit tyd was om die Iron Crown wedloop van my emmerskoplysie af te skrap al is die wedloop meer vir jonger en ratser atlete"
POLOKWANE – Op die ouderdom van 70 het Johan van Graan een van die moeilikste 21 km wedlope in Suid-Afrika voltooi, die Iron Crown Marathon.
Die Iron Crown is die hoogste berg in Limpopo en die marathon het ses jaar terug ontstaan. “Die Iron Crown word beskou as een van die moeilikste 21 km wedlope oor sy styl roete, selfs die wegspring was in ‘n ysige drie grade clesius,” verduidelik Johan.
Nie te min het die Polokwane Atletiekklub atleet dit hom nie laat afskrik nie en die wedloop voltooi.
“Ek het besluit dat dit tyd was om die Iron Crown wedloop van my emmerskoplysie af te skrap al is die wedloop meer vir jonger en ratser atlete,” vertel Johan. “Jou bobeenspiere word tot die uiterste beproef op die ongelooflike moeilike roete, dit is selfs erger as die klomp Comrades Maratathonne wat ek agter die rug het”.
Johan vertel verder dat behalwe vir die steil klim is daar ook gruis, groot rotse, slaggate en graspolle wat die atlete se vemroë beproef het.
“Ek moes op een staduim hande-viervoet voortbeur op sekere plekke en soms het ek maar aan die rotse en takke vasgeklou om te verhoed dat ek val, dit was net vasberadenheid en wilskrag wat my aangemoedig het om aan the gaan”
Hy vertel dat na twee ure se stoei met die klim, het hy die piek bereik en Limpopo se hoogste bergspits van 2 126 m oorwin het.
Johan kan met trots sê dat hy as die eerste “Great Grand Master” die wedloop voltooi het in ‘n tyd van vier ure en 17 minute, maar omdat daar nie ‘n kategorie is vir 70-plus atlete nie, was hy in die 60-plus verdeel waar hy steeds ‘n derde plek behaal het.
“As ek weer by Haenertsburg verby ry en ek sien die berg met sy torings in die verte, gaan dit vir my ‘n heel ander betekenis inhou,” sê Johan.




