Ané laat die stof staan op die ringbalbaan
Vir haar mede-skoliere is Ané van Dyk net nog 'n vriendin, maar vir die spelers in haar ringbalspan, asook ringtennis spanne, is sy goud werd.
POLOKWANE Ané is ‘n gr. 7 leerder aan Pietersburg Laerskool en het in gr. 4 reeds begin ringbal speel nadat ‘n vriendin haar daaraan bekend gestel het. “Ek het dadelik daarvan gehou. Ek speel ook netbal by die skool en alhoewel die twee sportsoorte baie verskil, raak ek nie deurmekaar nie,” vertel sy.
Ané het reeds van gr. 4 af elke jaar Limpopo kleure in ringbal verwerf en van gr. 5 af SA-kleure. In gr. 5 en gr. 7 het sy ook uitnodiging vir die SA-span gekry wat beteken dat sy vir die nasionale B-span speel.
“Ons werk lekker saam as ‘n span. Om doelle aan te teken is die lekkerste deel van ringbal maar ook die moeilikste. Tog is enige iets moontlik met my span,” bieg sy.
Verlede jaar het Ané begin ringtennis speel toe haar broer, Andries begin speel het. Iemand by die ringtennis het vir Ané gesê ringtennis sal haar fiks hou.
“EK het in 2016 SA-kleure in ringtennis ontvang en is ook as die o/13-meisiespankaptein aangekondig Dit was vir my ‘n groot verrassing. Ek kon dit nie glo nie.”
Haar pa, Dries, vertel dat dit vir hulle as ouers ‘n groot verassing was, maar dat hulle ongelooflik trots is op hul dogter.
“Ons oefen in klub verband en ek is die jongste speler in ons klub. Ons gaan binnekort Kleinkariba toe vir die Junior Toernooi.
Ané is ook betrokke by die Voortrekkers waar sy en haar boetie reeds van kleins af betrokke is. Sy het in gr. 3 daarby betrokke geraak.
“Hierdie jaar is ek ook deur my span as jeugleier van die Doornkraal Kommando verkies, wat vir my ‘n groot voorreg is. Ek is baie lief vir die natuur en bly besig deur met ons honde te speel. Eendag wil ek graag ‘n veearts word.”



