Local sport

Proteakleure vir dié flink ringtennisspelers

Beide het hulle SA-kleure in Maart tydens die nasionale kampioenskappe verwerf.

POLOKWANE – Sport vorm ‘n belangrike deel van die meeste leerders se skoolloopbane en dié sport is heel dikwels een wat buite skoolverband beoefen word.

Carla Craig en Ilze Olley het albei reeds op 12-jarige ouderdom met ringtennis kennis gemaak en is onlangs tot die o/23 Protea ringtennisspan verkies.

Ilze, ‘n leerder aan PHS, en Carla, ‘n onderwyser by dieselfde skool, het in Maart aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem waar hulle SA-kleure verwerf het.

Ilze vertel dat sedert sy ‘n kleuter was, haar ma reeds ringtennis gespeel het, en sy en haar broers langs die baan gespeel het.

“Toe ek oud genoeg was, het ek saam met my ma geoefen en teen die tyd dat ek 13 jaar oud was, het ek aan my eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem.”
By Carla-hulle is ringbal deel van die gesin se sportstorie. “My pa en ma het van ‘n jong ouderdom af ringtennis gespeel. Dit het eintlik al  by my ouma en oupa begin, en so het ek my liefde vir die spel gevind. Wanneer ons by my ouma-hulle in Nelspruit gaan kuier het, het ons altyd met ‘n ring in die erf gespeel, en ook wanneer ons met vakansie gegaan het saam met my ander ouma-hulle.”

Beide dié spelers word afgerig deur Richter van Tonder, ‘n Protea ringtennisspeler en oud-Pietie.

Richter speel reeds sedert 13 en het ook deur sy ma se deelname aan die sport, begin betrokke raak.

“Ek het op laerskool gewone tennis gespeel. Ringtennis verskil egter baie van gewone tennis. Met gewone tennis is daar balle en rakette. In ringtennis is daar net jou hand en die rubberring wat jy vang en gooi. Die reëls is ook heeltemal anders.”

Richter oefen twee maal per week saam met Carla en Ilze.

“Dit is regtig ‘n voorreg om deur Richter afgerig te word. Hy was ‘n junior speler toe my pa-hulle nog gespeel het en hulle het hom afgerig en gehelp. Dus is dit ‘n groot eer om nou deur hom afgerig te word. Hy weet net hoe om met mense te werk, hy is streng maar ‘n afrigter is nie ‘n goeie afrigter as hy nie streng is en jou tot jou volle potensiaal druk nie. Dit is presies wat hy doen,” vertel Carla.

Ilze stem saam dat dit ‘n voorreg is om deur een van die beste spelers in die land afgerig te word, en sê sy sien uit daarna om vir die volgende paar maande saam met hom te werk.

Die spelers oefen elke Dinsdag en Donderdag en beoog om deur die Desembervakansie ekstra oefentyd in te sit.

As PHS-netbalafrigter neem Carla ook deel aan klubnetbal, terwyl Ilze vir PHS swem en netbal speel.

Nie een van die twee spelers het verwag om in die o/23-ringtennisspan opgeneem te word nie.

Carla sê sy moes in gr. 12 ‘n keuse maak tussen netbal en ringtennis en so het ringtennis aanvanklik agterweë gebly.

“Ek het eers aan die begin van vanjaar weer ernstig begin speel, so gedink ek is eintlik glad nie op standaard nie. Vir my was dit ‘n groot verrassing. My pa, Gerrie, en ma, Elmari, het vir die senior spanne gespeel en dit is vir my ‘n groot eer om ook in ‘n Proteaspan opgeneem te word, nes hulle.” Ilze stem saam, en sê sy was die jongste speler by die toernooi, met relatief min ervaring. “Ek was verskriklik gelukkig, maar ook verbaas. Ek kon dit nie glo nie.”

1. Hoe verskil ringtennis van gewone tennis?

Ilze: Daar is baie verskille. Die baan is kleiner en die net amper so hoog soos ‘n vlugbalnet. In plaas daarvan om met ‘n raket te speel, speel jy met jou hande en ‘n ring.
Carla: In tennis het jy ‘n raket en ‘n bal waar jy by ringtennis net ‘n ring het. Die bane is amper dieselfde – ‘n ringtennisbaan is net kleiner. Om die telling te hou, verskil ook, soos waar daar in potte en stelle gespeel word by tennis, speel ons net met ‘n eenpuntstelsel by ringtennis.

2. Het ‘n mens iets spesiaal nodig om deel te neem, soos jou eie ring?

Ilze: Jy het nie regtig jou eie ring nodig nie, aangesien ringbalraad die ringe verskaf, maar wanneer jy in die Suid-Afrikaanse kampioenskappe speel en ernstig speel sal dit gemakliker wees om jou eie ring te gebruik, want baie van die ringe verbrokkel en kan ‘n mens se spel negatief beïnvloed.
Carla: Al wat jy nodig het is jou tekkies, ons het ringe waarmee ons oefen. Wanneer jy na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gaan, is dit geriefliker om jou eie ring te kry.

3. Is dit ‘n duur sportsoort?

Ilze: Dit is nie duur nie, maar omdat alles in Pretoria gebeur is die vervoerkoste nogal hoog en die ordentlike tekkies is ook duur.
Carla: Al wat duur kan raak is wanneer ons na ander provinsies toe moet ry, maar verder is dit glad nie duur nie, jy het nie die nuutste skoene nodig nie en ook nie enige ander toerusting nie.

Carla Craig:

Ringtennis is ‘n sportsoort waarmee jy mense regoor die land ontmoet en vinnig vriende maak.

Dit is die lekkerste om na ‘n lang dag van wedstryde bymekaar te kom en eers iets te eet en op te vang voordat ons almal weer huis toe gaan.

Daar is ‘n senior toernooi aan die begin van die jaar waar al die provinsies of unies teen mekaar speel en dan in die middel of einde van die jaar is daar ‘n junior toernooi waar daar vir al die nuwe spelers afrigting is en waar hulle die reëls leer.

Dit is ook waar jy vriende en vriendinne maak en soveel herinneringe.

Richter:

Ringtennis bestaan al meer as 70 jaar in Suid-Afrika. Ons en Duitsland is die twee top lande in dié sport. Van 2004 af is ‘n wêreldliggaam, World Tenniquoit Federation (WTF) gestig. Die oorspronklike drie lande wat bymekaar gekom het was Suid-Afrika, Duitsland en Indië.

Indië het in 2006 die wêreldbeker gewen teen Duitsland in in 2010 het Suid-Afrika Duitsland geklop.

Richter was deel van dié span. Hy het al in al die wêreldbekertoernooie deelgeneem: 2006, 2010, 2014, 2018 en 2023.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button