School sportSport

Perde diè twee se passie

Perdry is iets wat Laerskool Pietersburg-sibbe, Sharné Venter (gr. 2) en haar broer Aydon (gr. 7) as ‘n gesinsport beskou.

POLOKWANE – Dié twee leerders spog reeds met verskeie pryse wat hulle in beide skouspring en ander kompetisies gewen het. Meer onlangs het die twee in April in ‘n kompetisie gaan deelneem waar hulle die skool kon verteenwoordig.

Aydon verower daar drie derde plekke en twee eerste plekke en kom algeheel tweede as die reserwekampioen in vlak 2.

Lees ook: Danspassies haar lewe

Sharné raap twee derde plekke en drie vierde plekke op en kom algeheel vierde in vlak 0.

Sy vertel dat sy van jongs af reeds perdry en glad nie bang is om alleen te ry of aan kompetisies deel te neem nie.

“Aydon is een van my rolmodelle en ek beoog om eendag sy kompetisie in dié sportsoort te wees,” verklap sy.

Aydon geniet dit om saam met sy suster aan kompetisies deel te neem want hulle ondersteun mekaar, wat baie tot hul sukses bydra.

“Omdat ek en my suster saam perdry bou ons ‘n hegte en liefdevolle band, veral omdat ons saam op ons perde oefen en hul naweke versorg,” vertel hy.

Die twee sien uit daarna om lank na skool steeds aan dié sportsoort deel te neem, en afhangend van hoe lank hulle word, vertel Aydon dat hulle graag joggies na skool sal wil word.

Hulle beveel perdry vir enige iemand aan omdat dit ‘n sportsoort is wat jou na aan die natuur laat voel omdat daar so ‘n sterk band tussen die ruiter en perd moet wees.

“Dit leer jou geduld, dissipline en uithouvermoë. Dit is goed vir jou liggaam en help met jou konsentrasievermoë,” vertel Aydon. Alhoewel hy al ‘n paar keer afgeval het, het hy elke keer opgestaan en weer probeer omdat hy so baie van perdry hou.

Hy ry al sedert die ouderdom van vyf perd en het ‘n aanvoeling vir diere, veral perde wat een van sy gunsteling diere is.

Aydon het sy eerste 40 km-uithourit op die ouderdom van nege gery. Hy wou graag aan die 80 km uithourit deelneem maar is nog te jonk. Hy het ook aan skouspring deelgeneem maar toe hy die eerste keer aan western mounted games deelgeneem het, was dit verby.

Hy het met dié speletjies in 2016 op vlak 0 begin. Hy was daardie jaar vir die Limpopospan gekies en het aan die nasionale kampioenskappe in Pretoria deelgeneem.

Verlede jaar was hy op vlak 1 en is hy weer vir die Limpopospan gekies. Die keer was die nasionale kompetisie in Parys. Hy het sy persoonlike tyd tot so ‘n mate verbeter dat hy na vlak 2 opgeskuif het met sy merrie, Sharifa. Hy hoop om weer vanjaar vir die Limpopospan gekies te word.

Hy het vanjaar met ‘n nuwe perd begin ry en beoog om volgende jaar met dié na die kampioenskappe uitgenooi te word.

riana@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

 
Back to top button