School sportSport

Osies se senior netbalspelers baan die weg

Vir die eerste keer in Laerskool Pietersburg-Oos (Oosskool) se geskiedenis dring beide die o/12- en o/13-netbalspanne deur na die Suid-Afrikaanse Skole Netbaltoernooi.

POLOKWANE – Dié toernooi word in Bloemfontein op 27 en 28 Julie gespeel.

Albei die twee spanne, asook die o/11-span is onlangs aangewys as Limpopowenners in hul onderskeie ouderdomsgroepe. Die afrigter, Ingrid Pelzer, vertel dat daar ongeveer agt skole deelgeneem het in elke ouderdomsgroep.

Review het met die o/13-spelers gesels oor hul ondervinding.

Cailin Menzies speel reeds van gr.1 af netbal en sê sy geniet dit baie. “Die wedstryde wat ons moes speel om as wenners aangewys te word, was moeilik en dit het my moeg gemaak, maar dit was ook baie lekker. Ons het baie hard gewerk en ek sien uit na die Suid-Afrikaanse Skole Netbaltoernooi.”

Die o/11-netbalmeisies. Voor is Juanté Korff, Erna Kotze, Ruemé Quin en Kylie Campbell. Agter staan Lezé Buitendach, Lerize van Rhyn, Louise Strydom en Veronique van den Bank.

Vir Chané Viljoen is netbal haar Godgegewe talent wat sy met die wêreld wil deel. “Die Limpopokampioenskappe was baie lekker en stresvol, maar op die ou einde was dit die lekkerste om daardie beker vas te hou.”

Zoë Dunster van den Heever vertel dat sy ook vroeg begin netbal speel het, reeds sedert sewejarige ouderdom. “My doelwit vir die jaar was om die Top Skole te bereik en dis wat my wonderlike span gedoen het. Die Limpopokampioenskappe was rof, maar tog baie opwindend.”

Kayla de Villiers vertel dat die kampioenskappe ook vir haar lekker, maar moeilik was. “My doelwit is om die Suid-Afrikaanse Skole Netbaltoernooi te wen.”

Die o/12-netbalmeisies. Voor is Anke Schulenberg, Lize-Mari Claassens en Minette Burger. Agter staan Mari Swanepoel, Zelri Grobler, Ashley Lyons, Yolandi van Heerden en Mienke Becker.

Winette Prinsloo speel al netbal vandat sy vyf jaar oud is en vertel dat sy die Limpopokampioenskappe as goeie oefening ervaar het. Haar droom is om eendag aan die Brutal Fruit Netbalreeks deel te neem.

Tammylee Ferreira vertel dat die lekkerste oomblik van die Limpopokampioenskappe was toe hulle die laaste wedstryd teen Laerskool Tzaneen gespeel, en gewen het.

“Ek sal graag eendag vir Suid-Afrika wil speel,” sê sy. Britney Cronjé vertel dat die Limpopokampioenskappe dalk een van die stresvolste dae in haar lewe was, “Maar kyk waar is ons nou, sommer eerste. My doelwit is om eendag vir Australië te speel.” Nelieq Groenewald speel al netbal vandat sy in gr. R is en vertel dat haar doelwit was om na die SA Skolenetbaltoernooi toe te gaan. “Ons is vreeslik trots op hierdie meisies wat so goed presteer,” vertel Pelzer.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404

Related Articles

 
Back to top button