Local newsNews

Afrikaanse musieklegende wys sy reis is nog lank nie verby nie

Gert van Tonder trakteer aanhangers met goue oues by Monument Toyota Constantia.

Monument Toyota Constantia het ‘n glansryke waarderingsdag gehou vir ‘n Afrikaanse musieklegende op 26 November. Gert van Tonder is reeds vir nagenoeg ses dekades op die Afrikaanse musiektoneel. Op net 80 jaar jonk kan hy steeds ‘n gehoor boei en hulle terugvoer na die hoogtepunte van die 70’s en 80’s.

Gert van Tonder. Foto: Jarryd Westerdale.

Sowat 80 mense het die geleentheid bygewoon, en seremoniemeester Willie van der Schyf het die verrigtinge met aankondigings begin. Monument Toyota Constantia Handelaarshoof, Johann Folscher het daarna vertel hoe geëerd hulle was om so ‘n legende by hulle te verwelkom voordat dr Martin Jansen van Rensburg vertel het van die lang pad wat die lewe se reis volg.

Voordat die musiek begin het, is ‘n video van die hoogtepunte van Gert se loopbaan vertoon, wat roerende huldeblyke deur bekendes in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf soos Rian van Heerden, Elize Cilliers Koen en Pieter Koen ingesluit het. Elkeen het stories vertel van hoe Gert hul lewens op professionele en persoonlike vlak beïnvloed het op hul reis deur die vermaaklikheidslandskap.

Toe was dit tyd vir die groot man self om die verhoog te betree en ‘n wonderlike vertolking van gunstelinge soos Oukraalliedjie en Loving You te gee. Gert was altyd bereid om die kollig te deel of die jeug die kans te gee om op die voorgrond te tree, en het die mikrofoon aan sangeres Luna oorhandig wat haar vertolking van Sproetjies en Rede om te glo gegee het. Gert het die gehoor met nog ‘n paar liedjies vermaak voordat verrigtinge afgesluit is met ‘n heerlike middagete.

Van sy tuisdorp, Bergplaas in die Wes-Kaap, tot die internasionale verhoë van Cannes en Londen kan Gert steeds gehore bekoor. Hy sal in die komende weke sy nuwe enkelsnit Dis Mooi vrystel, wat weereens bewys dat ouderdom net ‘n getal is wanneer die gawe van sang in jou hart is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button