Local newsNews

Tehilla bederf kinders met Kerspartytjie

Aangesien talle gesinne hulself in minderbevoorregte posisies bevind, is dié magiese ervaring nie vir elke kind beskore nie.

Vir baie kinders het Kersfees gewoonlik bestaan uit geskenke onder die Kersboom, die geur van Ouma se varsgebakte soetkoekies en natuurlik Kersvader se besoek waarna daar met groot afwagting uitgesien is.

Aangesien talle gesinne hulself in minderbevoorregte posisies bevind, is dié magiese ervaring nie vir elke kind beskore nie. Dit is waarom Tehilla Hands of Abba graag vir behoeftige kinders daardie spesiale Kersgevoel wil gee wat mettertyd sal verander in kosbare herinneringe.

Tehilla is ‘n niewinsgewende organisasie wat reeds drie jaar bestaan, met ‘n begeerte om ‘n verskil te maak in ander se lewens deur vir minderbevoorregtes in verskeie gemeenskappe te voorsien.

Op Saterdag, 20 November het die passievolle organisasie hul derde jaarlikse Tehilla Kerspartytjie gehou. Volgens organiseerder Babs Olivier is kinders in areas soos Newlands, Kagiso, Davidsonville en Munsieville genooi om die dag saam met hulle te geniet. Die kinders is met kombi’s aangery en met heerlike worsrolle by die perseel verwelkom.

“Daar is 42 kinders uitgenooi waarvan 39 teenwoordig was. Borglyste is einde Augustus aan mense uitgestuur en elke kind is geborg met ‘n geskenk van tussen R120 en R150,” het sy vertel.

Dit was iets om te aanskou toe die opgewonde jong gaste hul kans geduldig afgewag het om op Kersvader se skoot te gaan sit en hul geskenk te ontvang.

Die kinders word uit hul sokkies bederf. Foto: Alanicka Lotriet.

Met groot oë en breë glimlagte is die pakkies oopgemaak, en hulle kon nie wag om hul nuwe speelgoed vir hul maats te wys nie.

Kinders tot en met die ouderdom van vyf jaar is bederf met ‘n rugsakkie gevul met toiletware asook ‘n klein geskenkie. Hulle het daarmee saam ‘n pet, sonbril en boksie vol lekkernye ontvang. Kinders ses jaar en ouer het elkeen ‘n pragtige skoolsak met skryfbehoeftes en toiletware ontvang.

Sommige geskenkies het poppe, karre, trokke, handsakkies en horlosies ingesluit. Verder is daar lekker saamgespeel, geswem en gelag.

“Aangesien minderbevoorregte kinders nie Kerspartytjies of geskenke ontvang tydens hierdie feestyd nie is dit ons voorreg om hulle met ‘n partytjie, ‘n geskenk en lekkernye te kon bederf,” het Babs vertel.

Sy het die Kerspartytjie met behulp van Teresa en Kiara Barbeito, Adele Dickinson, Corno Klaver, Mari Burger, Annelie Smit, Anita Coetzee, Melany Minnaar, Damian Minnaar, Sandra Olivier en Freddie Venter gereël.

“Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf teenoor elke borg – wat soms meer as een kind aangeneem het – wat gesorg het vir ‘n geskenk onder die boom nie. Ons gee die Heer al die eer wat vir ons deur ander mense voorsien het om hierdie dag, en die dae wat gaan volg, vir kinders moontlik te maak,” het sy vertel.

Die kinders word uit hul sokkies bederf. Foto: Alanicka Lotriet.

“Soms het ‘n traan saam met die geskenkie gekom, en soms ‘n groot glimlag. Die hoogtepunt was toe ‘n tweejarige opgewonde was oor ‘n tandeborseltjie saam met ‘n buisie tandepasta. Met dankbare harte sê ons baie dankie aan elke persoon wat ons met ‘n kontantdonasie ondersteun het, asook aan al ons borge.”

Hul borge is soos volg:
• Doxa Sand Hartebeespoortdam
• Corno & Zoë Klaver (skoolsakke en springkasteel)
• NKSR Consulting Engineers – Samantha Naidoo
• Character Group
• EG Kerk Hartebeespoortdam (CVV)
• Eskort (Honeydew – Owen)
• D@t Trust – Corne van der Heever
• Aucamp & Cronjé Prokureurs
• AC Logistics

Babs en haar span sien uit na twee soortgelyke Kerspartytjies wat na verwagting einde November en begin Desember sal plaasvind.

Indien jy daarin belangstel om ‘n kind se Kersseisoen op te helder of om by die organisasie betrokke te raak, kontak gerus vir Babs by 082 562 8216.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Roodepoort Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button