Kersbokse om seisoen op te helder
Plaaslike inwoner, Hannie Smith beskou dit egter nie meer as onbaatsugtige dade nie, maar eerder 'n leefstyl.
Vriendelikheid kos niks. Dit is gratis en al wat dit moontlik kan doen, is om iemand anders se dag op te kikker. Dit is keer op keer bewys dat ‘n klein, onselfsugtige daad soms iemand se lewe kan red.
Plaaslike inwoner, Hannie Smith beskou dit egter nie meer as onbaatsugtige dade nie, maar eerder ‘n leefstyl. Sy het ongeveer vier jaar gelede begin om bokse te pak vir dié wat dit nodig het.
Alhoewel sy nou besig is met bokse vir die feesseisoen, pak sy graag verskillende tipes bokse gedurende die jaar. Afhangende van wat die nood is, stel sy graag pakkies saam vir behoeftige skole, ouetehuise, hospitale en gesinne.

“Daar is soveel mense wat swaarkry en daarom probeer ek help waar ek kan. As ek byvoorbeeld weet skoolkinders het skryfbehoeftes nodig sal ek bokse vul met items wat hulle kan help. Dit geld ook vir ouetehuise en gesinne,” het sy vertel.
Die Kersbokse is egter een van haar gunstelingprojekte omdat sy vir elke boks ‘n eie persoonlikheid gee. Hannie verf eers die bokse en versier dit dan feestelik met ornamentjies en allerhande kleurvolle versierings.
Die Kersbokse word op die oomblik gevul met items soos ontsmettingsmiddels, seep, room en sjampoe.
“Ek weet nog nie wie dit gaan nodig hê nie. Die regte mense in nood sal na vore kom en hulle sal die bokse ontvang. Ek het my gesondheid en ek kan nog werk. Ek sal alles doen wat ek kan om mense te help,” het Hannie gesê.
Alhoewel sy geen finasiële hulp ontvang vir haar goedhartigheid nie, het sy altyd iets om te bied.
“Die produkte wat ek aankoop is eintlik weggooiprodukte wat steeds 100 persent bruikbaar is. Ek gaan haal dit self en maak dit skoon om ‘n netjiese produk aan die begunstigde te kan skenk. Ek het selfs al ‘n versoek gekry om 1 500 bokse saam te stel, en ek het dit reggekry. Ek sal altyd ‘n plan maak vir dié in nood,” het sy vertel.

Sy hou ook daarvan om ‘n boks te vul met items en mense dan aan te moedig om iets vir hulself te neem, en dan weer te vervang met ‘n soortgelyke item. Die boks moet dan na die volgende persoon aangestuur word. Sodra meeste van die items vervang is, word die boks geskenk aan iemand wat dit nodig het.
Om die bal aan die rol te kry, het sy ‘n Kersboks aan die Record geskenk met die doel om produkte te roteer. Hannie wil graag ook die gemeenskap uitdaag om ‘n soortgelyke projek aan te pak om die wat swaarkry, te help.
“Ek wil soveel as moontlik mense betrokke kry. Saam kan ons ‘n verskil maak en mense help,” het sy ten slotte vertel.



