VLU reik uit na Gateway Skool
Lede van die VLU Overvaal het tydens hul besoek aan Gateway Skool 'n hele rits tuisgemaakte items geskenk.
Die Vrouelandbou-unie Overvaal (VLU Gauteng) het Gateway Skool op 23 Julie besoek om handgemaakte skenkings aan die skool te oorhandig.
Volgens die voorsitter van VLU Roodepoort, Malinda Raats, het lede tydens hul besoek eerstehands kennis gemaak met die uitdagings waarmee die skool daagliks te doen het.
“Gateway Skool is ‘n besondere inrigting vir gespesialiseerde onderwys,” sê sy.
“Baie van die kinders het fisiese gestremdhede en geen beheer oor hul spiere nie, en kan slegs met hulp eet.
“Verskeie leerders het ook ernstige intellektuele gestremdhede en benodig gespesialiseerde ondersteuning van personeel en ouers.
“Die onderwysers het groot omgeeharte en verrig hul werk met ongelooflike geduld en liefde.
“Van die skool se 300 leerders is 110 daagliks afhanklik van die voedingskema.
“Die skool het ook ‘n groot klerekamer waaruit behoeftige kinders gehelp word.”
Die VLU het tydens die besoek 10 waterdigte doekoorbroekies, drie serpe, 13 warmwatersakke, 28 mussies en 31 vingerlose handskoene – alles deur VLU-lede gemaak – aan die skool geskenk.
“Dit is vir ons ‘n voorreg om ons medemens te ondersteun en ‘n positiewe verskil in die gemeenskap te maak.
“Gateway Skool verrig belangrike werk en staan sentraal tot ‘n breër gemeenskap van kinders met gestremdhede en hul families. Ons hoop om in die toekoms nog baie saam met hierdie besondere instelling te kan doen.”



