Schools

Horie-afrigter is beste in Gauteng

Hories se onderwyser Anri Vermaas is pas as die Afrigter van die Jaar in Gauteng aangewys.

Benewens die feit dat Anri Vermaas as ‘n gerespekteerde onderwyseres by Laerskool Horison honderde kinders suksesvol op hul skoolpad begelei, is sy ook ‘n hoogs bekwame sportafrigter.

Haar uitmuntende werk is onlangs erken toe sy aangewys is as beide die Wes-Rand Afrigter van die Jaar en die Gauteng Afrigter van die Jaar by die 2025 Women in Sport Awards. Die toekennings is aangebied deur Futballing Girls, ‘n nie-winsgewende organisasie wat daartoe verbind is om die rol van vroue in sport te bevorder.

“Ek is gedurende 2024 deur SMART Throwers Academy, waar ek oor naweke atlete uit ons plaaslike gemeenskap afrig, vir die toekenning genomineer,” vertel Anri.

“Hierdie nominasie was vir die Wes-Rand-afdeling van die Women in Sport Awards.

“Ek is as wenner aangewys en het sodoende deurgedring na die Gauteng-been van die kompetisie, waar ek teen die top-afrigters in die provinsie meegeding het. Uiteindelik is ek as Gauteng se Afrigter van die Jaar bekroon.”

Volgens Anri is die toekenning gebaseer op haar prestasies as afrigter tussen Junie 2023 en Augustus 2024.

Lees ook: Horie-onnie is ‘Afrigter van die Jaar’

Sy is onder meer benoem vir haar rol as afrigter van provinsiale spanne en as spanbestuurder by nasionale kampioenskappe, waaronder die SASA Hoërskole-kampioenskappe in April 2024 in Paarl en die ASA Nasionale Junior Kampioenskappe in Maart 2024 in Pretoria.

“Verskeie atlete wat ek afrig, het op provinsiale en nasionale vlak medaljes gewen, en baie ander het top-10-prestasies by dié kampioenskappe behaal.”

Anri is ook betrokke by die afrigting van verskeie gestremde atlete en is tans besig met voorbereiding vir die nasionale kampioenskappe wat in April vanjaar in Gqeberha plaasvind.Laerskool Horison se skakelbeampte, Maria-Lise Pieters, het Anri namens die skool gelukgewens.

Lees ook: Ma en dogter duo laat die koppe draai

“Ons Hories is natuurlik baie trots op haar uitstekende prestasies. Dit wys net: Dit is nie net ons leerders en atlete wat die skool se naam hoog hou nie – ons onderwysers en afrigters kompeteer ook suksesvol op die hoogste vlakke.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button