Latest SportSport

Judoka bereik nuwe hoogtes tydens kampioenskappe

Hy het vanjaar die eer gehad om tydens die Nasionale Graderingskampioenskappe sy swartgordel te ontvang.

Judoka Ivan Olivier het sy judoreis in 2011 by die Doryoku Judo Klub begin, en presteer reeds vir nege jaar lank op verskeie vlakke.

Tydens verlede jaar se Suid-Afrikaanse Opekampioenskappe het hy ‘n gouemedalje in Kime No Kata, ‘n silwermedalje in Kumite (individuele gevegte) en ‘n bronsmedalje in spangevegte gewen.

Hy het vanjaar die eer gehad om tydens die Nasionale Graderingskampioenskappe sy swartgordel te ontvang en gekwalifiseer om vanjaar sy Protea-kleure te verdien.

Hy het weereens vanjaar gekwalifiseer vir die nasionale spanproewe, waar hy ‘n algehele eerste plek behaal het. “Ek hou van die toernooie en die kompeterende aard van die sport. Ek hou veral van die adrenalien wat in ‘n mens se are pomp tydens ‘n kompetisie.”

Met sy harde werk, verskeie prestasies en ondersteuning is Ivan gemotiveerd om die res van die jaar se kampioenskappe aan te pak. Hy fokus om aan die einde van die jaar te kwalifiseer om aan die Afrika Kampioenskappe asook die Statebondskampioenskappe deel te neem.

“Judo leer ‘n mens deursettingsvermoë en dat ‘n mens nie moet opgee nie. Jou toekoms is nooit vasgelê nie en jy kan dit verander, afhangend van hoe graag jy iets wil hê en hoe hard jy bereid is om daarvoor te werk,” het hy gesê.

Hy het vertel dat hy nog altyd aan die Olimpiese Spele wou deelneem, en dat hy met harde oefening, deursettingsvermoë en nederigheid daarna mik om sy droom te bewaarheid.

“Eric Thomas het gesê, ‘When you want to succeed as bad as you want to breathe, then you will be successful’. Ek glo ek is deel van generasie-Z wat nes millenniums bekend staan as dromers, dus is ek trots om te sê dat my drome my motiveer,” het hy afgesluit.

Related Articles

Back to top button