MEYERTON – Van ’n beskeie boksgimnasium in Meyerton tot ’n eksklusiewe voorbereidingskamp in Spanje saam met een van die grootste name in wêreldboks.
Ruann “The Giant King” Visser se boksreis gaan oor veel meer as net ’n sportprestasie. Dit is ’n verhaal van geloof, ontbering en vasbyt.

Visser, ’n oud-Vaaldriehoeker en voormalige Suid-Afrikaanse swaargewigkampioen, het sy boksloopbaan as jong man in Meyerton begin.
Vandag oefen hy in Spanje saam met die Britse boksster Anthony Joshua as deel van Joshua se voorbereidingskamp vir sy opkomende geveg teen Kristian Prenga. As Joshua se hoof-skermmaat vervul hy ’n belangrike rol in een van die mees professionele boksomgewings ter wêreld.
“Toe die geleentheid opduik om by Anthony Joshua se kamp aan te sluit, was dit ’n ongelooflike eer. Sulke geleenthede kom nie sommer elke dag oor ’n mens se pad nie,” vertel Visser.
Vir baie mense in die Vaaldriehoek bly hy steeds die plaaslike lieflingseun wat internasionaal naam gemaak het. Agter die skerms lê egter jare se harde werk, hartseer en hoogtepunte.
Benewens sy Suid-Afrikaanse swaargewigtitel het hy reeds saam met wêreldbekende name soos Wladimir Klitschko, Bermane Stiverne, Oleksandr Usyk, Francis Ngannou en Kubrat Pulev gewerk. Volgens Visser tel sy tyd saam met Joshua onder die grootste hoogtepunte van sy loopbaan.
“Om deel te wees van Anthony Joshua se kamp is beslis een van die grootste mylpale in my loopbaan.”
Wat hom die meeste beïndruk, is die ongelooflike aandag aan fyn besonderhede in Joshua se kamp.
“Die aandag aan detail staan uit. Niks word aan toeval oorgelaat nie. Dit wys presies hoekom die wêreld se beste atlete op die hoogste vlak bly presteer.”
Ten spyte van Joshua se wêreldwye roem beskryf Visser hom as nederig.
“Hy behandel almal met respek. Hy is gefokus, professioneel en baie maklik om mee te werk.”
Vir Visser lê die geheim van wêreldklas-sukses in dissipline en deurlopendheid.
“Die grootste les wat ek hier leer, is dat sukses in die klein dinge opgesluit lê. Wêreldklas-prestasie gebeur nooit toevallig nie.”
Sy reis gaan egter oor meer as net boks. Geloof speel ’n sentrale rol in sy lewe.
“Hierdie reis het my verhouding met Jesus nog verder versterk. Ek glo opreg ek sou nie so ver gekom het sonder Jesus in my lewe nie.”
Hoewel sy internasionale loopbaan groei, bly sy wortels stewig in die Vaal geanker.
“Ek is trots op waar ek vandaan kom. Om die Vaaldriehoek en Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig, beteken ongelooflik baie vir my.”
Sy lewe buite die kryt het ook verander. Sedert sy kampioendae het hy getrou. Sy vrou, Kayla, en hul twee dogters is vandag sy grootste dryfkrag.
“Ek boks nie meer net vir myself nie. Hulle motiveer my elke dag om beter te wees. Om vir lang tye weg te wees, bly moeilik. Jy mis verjaarsdae en spesiale oomblikke. My vrou en kinders is my grootste motivering.”
Ten spyte van alles wat hy reeds bereik het, glo Visser dat sy beste jare nog voorlê. Hy wil onder meer die Suid-Afrikaanse swaargewigtitel terugwen.
“Ek glo ek het nog omtrent vyf goeie jare oor en wil in daardie tyd soveel moontlik bereik.”
Wanneer hy terugkyk, is dit nie titels wat hom die trotsste maak nie.
“Die ding waarop ek die meeste trots is, is dat ek nooit opgegee het nie.”
Aan jong sportmanne en -vroue het hy ’n eenvoudige boodskap:
“Moenie toelaat dat jou omstandighede jou toekoms bepaal nie. Werk hard, wees gedissiplineerd en hou vas aan jou geloof.”
Ruann Visser se verhaal bewys dat groot drome nie net vir mense uit groot stede beskore is nie. Soms begin wêrelddrome in ’n klein dorp soos Meyerton, met ’n jong seun, ’n paar bokshandskoene en die geloof dat enigiets moontlik is.
