Nog ‘n Comrades vir onse Christiaan voltooi
MooiVaal Media is baie trots op Vaalweekblad joernalis en Ster North redakteur, Christiaan Cloete wat weer die langpad aangedurf het.
MEYERTON – Hy is bekend vir sy uitstekende ondersoekende joernalistiek, maar Christiaan Cloete is ook sportief. As hy nie aan ʼn fietswedren deelneem nie, slaan sy tekkies die teer. 15 Junie het hy sy 16de Comrades Ultramarathon voltooi.

Die jaar was vir hom ekstra spesiaal, want dit was sy eerste keer as pa. Om alles te kroon was Ilse en klein Stian sy ondersteuningspan vir die dag.
Hy sê hy het sommer ʼn ekstra huppel in sy stappie gekry toe hy, met die laaste uitmergelende 14 km wat voor hom uitgestrek lê sy mense langs die pad gekry het. Hulle het hom verras met warm tee, iets wat baie skaars is langs die Comrades roete.

Hy het die roete die jaar aangedurf om vir klein Stian te wys dat enige iets moontlik is met harde werk, toewyding en geloof. Dan het hy ook die lang pad opgedra aan sy pa, Dr. Cloete, wat tans ernstig siek in die hospitaal is. Hy het in 2004, 2006 en 2010 die Comrades gehardloop en was nog altyd ʼn inspirasie vir Christiaan.
Christiaan het ook rondom die halfpadmerk eers by die Comrades Wall of Honour gestop. Sy naam en groen nommer pryk nou ook op die muur, nadat Ilze vir hom die gedenkplaatjie gekoop het.
Naas al die verrassings sê Christiaan die marathon het heel goed vir hom afgeloop. Hy het dit in ʼn tyd van 10:44:50 klaargemaak.
“Ek het al die vroeë bulte uitgedraf, insluitend Cowies Hill, Fields Hill, en Botha’s Hill.” Inchanga, wat die meeste drawwers ore aansit, het hy uitgedraf en het net die laaste paar 100m daarvan geloop.
Hy het wel vanaf 55km tot omtrent so 73km gesukkel, maar het weer reggekom toe hy by die bopunt van Polly Shorts kom.
Volgende jaar is die 100ste Comrades wedloop, maar op die oomblik dink hy nog of hy homself weer deur die pyn wil sit. Vir nou gaan hy eers bietjie rus, maar soos sy kollegas hom ken sal dit nie ʼn lang rus wees nie.
