VANDERBIJLPARK – Die Vaal se paalspringkoningin Ansume de Beer het Dinsdagaand die beste vertoning van haar loopbaan gelewer toe sy die Suid-Afrikaanse vroue-paalspringrekord in Fribourg, Switserland, verbeter het.
De Beer het teen sterk internasionale teenstanders meegeding en ’n indrukwekkende 4.50 m oorgesteek wat ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekord én ’n nuwe persoonlike beste is.
Die vorige nasionale rekord van 4.40 m is 26 jaar gelede deur Elmarie Gerryts opgestel. De Beer, wat deur die bekende Vaaldriehoekse afrigter Louis Nienaber afgerig word, het haarself oor die jare gevestig as een van Suid-Afrika se opwindendste baan- en veldatlete.
Haar nuutste prestasie is nie net ’n historiese mylpaal vir Suid-Afrikaanse atletiek nie, maar ook ’n trotse oomblik vir die Vaal se sportgemeenskap, waar beide atleet en afrigter vandaankom.
