VANDERBIJLPARK – Janitha van Reenen (25) is Donderdag weer in hegtenis geneem, slegs dae nadat sy borgtog in ’n afsonderlike bedrogsaak gekry het.
Sy is op 3 September buite die Vanderbijlpark-landdroshof in hegtenis geneem.

Haar tweede inhegtenisneming het gekom kort nadat sy in verband met ’n afsonderlike beweerde bedrogsaak van R424 000, waarin die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit (ELM) betrokke is, in die hof verskyn het.
Van Reenen is in dié saak op borgtog van R10 000 vrygelaat ná drie onsuksesvolle borgtogaansoeke in die Vanderbijlpark-landdroshof. Sy is verlede Maandag deur die hooggeregshof in Johannesburg op borgtog vrygelaat.
Van Reenen se vryheid was egter van korte duur.
Ondersoekers van die Taakspan vir Politieke Moorde het haar buite die hof in hegtenis geneem weens bewerings dat sy die meesterbrein agter ’n beweerde R9,9 miljoen-elektrisiteitsbedrogspul was waarby dieselfde munisipaliteit betrokke is.
Die beweerde sindikaat sluit sewe ander beskuldigdes in wat na bewering as diensverskaffers en munisipale werknemers met die skema verbind word.
In die R424 000-saak word Van Reenen daarvan beskuldig dat sy haar as ’n onafhanklike agent voorgedoen het wat inwoners kon help om afslag op hul uitstaande munisipale rekeninge te kry.
Daar word beweer dat inwoners wat finansieel gesukkel het, geld aan haar oorhandig het sodat sy namens hulle afslagbetalings aan die munisipaliteit kon maak.
Die polisie beweer die geld is nooit aan die munisipaliteit oorbetaal nie.
Sy word ook daarvan beskuldig dat sy namens inwoners eise by ELM ingedien het, waarna die munisipaliteit na bewering sowat R424 000 aan haar betaal het pleks van aan die beoogde begunstigdes.
Brigadier Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het Van Reenen se jongste inhegtenisneming bevestig.
Sy sal na verwagting op 7 September weer in die hof verskyn op aanklagte van diefstal, beskadiging van en diefstal van kritieke infrastruktuur, asook geldwassery.
Die inhegtenisneming vorm deel van voortgesette ondersoeke na ’n sindikaat wat na bewering betrokke is by die onwettige aansluiting van elektrisiteit en verwante kriminele bedrywighede binne die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit.
Polisie-ondersoeke duur voort, terwyl owerhede poog om almal wat by die netwerk van onwettige elektrisiteitsverbindings betrokke is, te identifiseer en in hegtenis te neem.