News

Bles se graf in Vanderbijlpark-begraafplaas

Danksy AfriForum kan inwoners op sekere dae die Vanderbijlpark-begraafplaas in veilige omstandighede besoek. Vaalweekblad het die kans benut.

VANDERBIJLPARK – Bles Bridges se begrafnis by die Vanderbijlpark-begraafplaas in 2000 was sonder twyfel die grootste begrafnis wat ooit in die Vaaldriehoek gehou is.

Volgens Wikipedia was daar daardie dag meer as 20 000 mense teenwoordig.

As een van Suid-Afrika se gewildste en suksesvolste Afrikaanse sangers van die 1980’s en 1990’s, is hy met reg beskou as die Koning van die Afrikaanse Ballade.

Met sy fluweelstem en kenmerkende gewoonte om rose aan sy aanhangers in die gehoor uit te deel, het hy diep in die harte van die Afrikanervolk plek geskrop.

Hy het in die vroeë 1980’s sy merk in die Afrikaanse musiekbedryf begin maak, maar dit was sy reuse-treffer, Ruiter van die Windjie (1986), wat hom oornag ‘n huishoudelike naam gemaak het.

Generasie X sal beslis weet wie hy is, maar dit is veral die Baby Boomers wat sy ikoniese treffers soos MaggieOp die vlerk van ‘n spierwit duif en Niemand sal jou ooit kon vervang nie steeds woord vir woord kan saamsing.

Hoe sy aanhangers hom sal onthou.

Te vroeg oorlede

Harte was gebreek toe Bles op 53-jarige ouderdom ná een van sy sangvertonings in ‘n motorongeluk buite Bloemhof gesterf het.

Sy gedenksteen staan daar langs die pad.

Die bekende Afrikaanse sanger Ray Dylan het Bles se gedenksteen onlangs besoek en op sosiale media opgemerk hoe duidelik dit is dat Bles baie geliefd was.

Ray Dyllan by Bles se gedenksteen. Foto: Facebook

Ware Valie

En hy was! Veral hier in die Vaal. Hy is op 22 Julie 1946 in Viljoenskroon gebore as Lawrence John Gabriel Bridges.

Hy het bekend geword as Bles Bridges nadat sy Ierse oupa hom “Bles” genoem het weens sy baie dun hare van ‘n vroeë ouderdom af.

Bles het die grootste deel van sy volwasse lewe in Vereeniging gebly saam met sy vrou, Leonie, en hul twee kinders.

Hy was ‘n Valie in murg en been en hy is hier, in die Vanderbijlpark-begraafplaas, ter ruste gelê.

Bles Bridges se graf by die Vanderbijlpark-begraafplaas.

Vanderbijlpark-begraafplaas

Destyds was dit ‘n keurige, netjiese rusplek, maar niemand kon voorspel dat die begraafplaas jare later sou verval en selfs onveilig sou word om te besoek nie.

Toe AfriForum onlangs weer sy dienste aangebied het sodat mense hul geliefdes se grafte in veilige omstandighede kan besoek, het ek besluit om te gaan loer hoe Bles se graf nou lyk.

Ek was die dag daar met sy begrafnis, maar dit was 26 jaar gelede en die begraafplaas lyk nou heeltemal anders.

Ek het so vaagweg ‘n idee van in watter blok hy begrawe is, maar ek het net begin moedeloos raak toe Rudi de Beer van AfriForum tot my redding gekom het.

Hy weet waar die graf is en neem my soontoe.

Tot my verbasing en groot verligting lyk Bles se grafsteen steeds mooi, en die grafte rondom hom ook netjies.

‘n Mens kan natuurlik net wonder hoe lank dit so sal bly, maar vir nou is dit steeds ‘n waardige rusplek vir ‘n man wat die Vaal se naam so hoog gehou het.

Bo en onder: Bles se graf van nader. Foto’s: Elsje Vermeulen
Die mooi boodkskap op Bles se grafsteen.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: [email protected]
Back to top button