‘Polisie moet antwoorde gee oor misdaadbekamping in Gauteng’ – VF+
Die jongste syfers plaas ondersoeke en vervolgings onder die vergrootglas.
Die polisie se jongste misdaadsyfers vir die eerste kwartaal van 2026/27 wek ernstige vrae oor die doeltreffendheid van misdaadbekamping in Gauteng, sê die VF Plus.
Jaco Mulder, VF Plus-LPW en woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, sê hoewel die polisie honderde operasies en inhegtenisnames rapporteer, behoort die werklike maatstaf minder misdaad, meer suksesvolle vervolgings en die ontmanteling van georganiseerde misdaadnetwerke te wees.
Volgens Mulder toon die verslag dat 751 mense in verband met onwettige mynbou in hegtenis geneem is. Altesaam 625 van dié inhegtenisnames was egter vir immigrasieverwante oortredings.
“Die polisie moet verduidelik hoeveel sindikaatleiers, finansiers, goudkopers en ander sleutelfigure werklik vervolg en skuldig bevind is,” sê hy.
Bendegeweld bly volgens hom ’n ernstige bedreiging, maar die verslag maak slegs melding van twee skuldigbevindings in bendeverwante sake. Dit dui volgens Mulder op ’n groot gaping tussen operasionele aktiwiteite en uiteindelike geregtelike uitkomste.
Mensehandel is nog ’n kwelpunt. Hoewel 27 bestaande sake voortgesit is, is geen nuwe dossiere gedurende die kwartaal ontvang nie. Mulder sê die polisie moet verduidelik of dit ’n werklike afname weerspieël, of eerder swak opsporing en rapportering.
Verder is 85 sake van inbrake by skole, klinieke en hospitale volgens die verslag weens onvoldoende bewyse as onopgelos gemerk.
“Die publiek verdien ’n polisiediens wat nie net misdaad bestry nie, maar meetbare resultate lewer,” sê Mulder.