News

Pa en seun pak saam groot kragmeting in China aan

Vir die eerste keer sal een van Riekerd Bornman se ouers langs die verhoog wees wanneer hy internasionaal kragte meet.

MEYERTON. – Wanneer Riekerd Bornman Saterdag sy plek by die armdruktafel in China inneem, sal sy pa nie bloot vanuit die gehoor toekyk nie.

Duval Bornman sal as pa, vriend én afrigter in sy seun se hoek staan wanneer die 22-jarige Meyertonner die Sweed Filip Larsson by East vs West 26 in Jiaxing aandurf.

Dit is die eerste keer dat een van Riekerd se ouers hom na ’n internasionale kragmeting vergesel.

“Dit is vir my ’n baie groot eer en iets baie besonders, hoewel ek wens my ma, Mariska, kon ook hier wees,” sê Riekerd.

Ek doen dit nie net vir myself nie. Ek doen dit vir my mense en my land.

Vir Duval maak dit nie saak waar in die wêreld die kragmeting plaasvind nie – die belangrikste is dat hy sy seun kan bystaan.

“Dit beteken vir my alles om saam met my kind te wees. Ek kan nie tussen lande of plekke onderskei nie. Waar ons ook al in die wêreld is, die verskil is dat ek saam met hom is en hom kan help.”

Duval sê Riekerd het hard geoefen en alles gedoen wat van hom verwag is. Hy glo sy seun is gereed om sy onoorwonne East vs West-reeks tot ses kragmetings te verleng.

Volgens Riekerd speel sy pa ’n belangrike rol in sy voorbereiding. Duval is eerlik wanneer iets nie goed genoeg is nie en help hom om die nodige aanpassings te maak.

“Daar is nie versierings wat hy probeer opsit nie. Ons kom by die punt uit en maak drastiese veranderinge waar dit nodig is. Ek respekteer dit, want dit is wat ’n mens van iemand aan die buitekant nodig het.”

Die twee ontleed teenstanders en moontlike scenario’s voor kragmetings sodat Riekerd weet wat om te verwag en watter aanpassings hy aan die tafel kan maak.

Duval sê dié rol vereis dat hy soms die “pa-figuur” opsy moet skuif.

“Dan moet jy meer van ’n vriend wees, maar ook die afrigter wat hom motiveer en sê wat hy moet doen.”

Sy laaste boodskap voordat Riekerd aan tafel tree, sal eenvoudig wees: “Vat dit. Kry die goed.”

Riekerd glo hy en sy jonger broer, Duvan, het hul natuurlike krag by hul pa geërf.

“My pa het verskriklik goeie gene wat aan my en my boetie nagelaat is. Maar dit gaan nie net oor goeie gene nie. Ons het ook talente gekry wat die Here vir ons gegee het, saam met die vermoë en begeerte om hard te werk.”

Riekerd se pa, Duval Bornman, druk arm teen sy broer, Duvan, by hul huis in Rothdene. Foto: Christiaan Cloete

Riekerd sê hy voel tans beter as op enige ander stadium van sy armdrukloopbaan.

“Ek het geen pyne nie. Die feit dat my pa in my hoek is, maak ’n baie groot verskil. Ons is gereed vir die geleentheid en ek kan nie wag om my beste te gee nie.”

Bornman en Larsson sal oor vyf rondes in die regterarm-super-swaargewigafdeling kragte meet. ’n Oorwinning sal Bornman se East vs West-rekord na 6-0 neem en hom verder in sy strewe na ’n plek onder die wêreld se voorste tien super-swaargewigte neem.

Ondersteuners sal Saterdag vanaf 14:00 by die Meyerton Sportklub saamtrek om die kragmeting regstreeks op ’n groot skerm te volg.

Riekerd sê dié ondersteuning dra besondere betekenis.

“Ek doen dit nie net vir myself nie. Ek doen dit vir my mense en my land. Dit is ’n groot verantwoordelikheid en eer om Suid-Afrika te verteenwoordig. Daarom doen ek dit voluit.”

Duval Bornman poseer saam met Riekerd se opponent, die Sweed Filip Larsson. Foto: Verskaf

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button