Liam droom om groot babers te vang
Liam Pronk is tans in Laerskool D.F Malherbe. Volgende jaar gaan hy Hoërskool Driehoek toe, maar hy verkies om eerder langs die Vaaldam te wees.
VANDERBIJLPARK – Hy was vyf jaar oud toe hy die eerste keer ‘n visstok opgetel het. Vandag is hy ‘n hengelkampioen. Liam Pronk van die Laerskool D.F. Malherbe geniet dit baie meer om agter sy visstokke te staan as om by die skool te wees.
Nie dat hy visvang nie, hy hengel. “Hengel is kompeterend, visvang nie,” verduidelik hy die verskil. Liam is deel van die RPA Hengelklub. Hul klubgronde is langs die Vaaldam en dis waar Liam op sy gelukkigste is.

Hy is juis onlangs aangewys as RPA se beste hengelaar vir o13’s. Boonop het hy sy Gauteng-kleure verwerf nadat hy goed gevaar het in die proewe vroeër vanjaar.
Later vanjaar gaan hy as deel van die Gauteng o13A-span ook aan die nasionale proewe deelneem by Bloemhofdam.
Hy sien daarna uit, want tot dusver het hy nog net lyn natgemaak langs Vaaldam. Sy gesin hengel almal en Liam vertel sy ma, Antonette, het die rekord gebreek en die grootste geelvis gevang. “Die rekord staan al van 20212 af,” vertel hy trots.
Self het hy al ‘n karp van so 3 kg uitgehaal, maar hy droom daarvan om ‘n groot baber kant toe te bring. “Ek het al twee keer ‘n baber gevang. Die grootste een was 0.4 kg.

Babers is moeilik. ‘n Mens moet ‘n baber van agter skep, anders word hy bang,” beduie hy die proses. Om die vis in te katrol en self te skep is nie so maklik nie.
Tot en met die Gauteng proewe kon sy pa nog sy vis vir hom skep, maar by die groot kompetisie in November sal hy die vis self moet skep.
“In die Gautengspan sal ek alles self moet doen, maar ek glo ek sal dit kan regkry.” Alles verloop nie altyd glad langs die water nie. Liam vertel hy het een keer sy hand met ‘n mes gesny en dan het hy ook al ‘n paar keer in die dam geval.
“Die Vaaldam se swart modder kan nogal taai wees om af te was,” glimlag hy. Duidelik pla dit hom nie om met bietjie modder besmeer te raak nie. Solank hy net kan hengel.
Volgende jaar gaan hy Hoërskool Driehoek toe. Daaroor is hy baie opgewonde. “Ek het so ‘n paar maande terug saam met Driehoek vir 24 uur by Flamingo Bay gehengel. Nou ken ek al van die leerders daar.”
Eendag wil hy nog van ‘n boot af hengel. Miskien net eers op die dam, want sy pa het al seehengel probeer, maar die weer was nie lekker nie, die see was te rof en almal het seesiek geraak.
Liam reken dis veiliger langs die dam, al het hy al Vaaldam se storms beleef. “Vaaldam is die beste plek om te hengel,” verklaar hy beslis, maar hy sal darem Bloemhofdam ‘n kans gee in November.
