VF-leier besoek die Vaaldriehoek
Die feit dat ’n politieke party die grootste opposisieparty is, beteken nie dat kiesers verplig is om daarvoor te stem nie,” het dr. Corné Mulder, VF Plus- leier gesê.
SASOLBURG – Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) se “Dis Ons Tyd”-veldtog het verlede Dinsdag by Pont de Val net buite Parys ‘n ontbyt aangebied waar die party se leier Dr. Corné Mulder gaste toegespreek het.
Die landswye toer is daarop gemik om met publieke vergaderings voor die opkomende munisipale verkiesing met die publiek, kandidate en raadslede op voetsoolvlak te skakel.
Die toer het hom die afgelope weke onder meer na KwaZulu-Natal en Mpumalanga geneem. Die VF Plus se Metsimaholo-kandidate is tydens die besoek ook toegespreek met die verkiesing van 4 November om die draai. Jan van Niekerk, die VF Plus-leier van die Vrystaat, het ook die gaste toegespreek en sy boodskap was kort en kragtig.
“Die tyd is nou vir elke goeie mens in Suid-Afrika, vir die Christen familiemens in Suid-Afrika, om te dink voordat ons doen. Deur nie te dink voordat ons stem nie plaas ons die verkeerde mense in leierskapposisies.
Twee van die grootste probleme in Suid-Afrika is Swart Ekononomies Bemagtiging en regstellende aksie en dit het dienslewering op sy knieë vandag. Die hoop vir Suid-Afrika is in ons hande. So kom ons vat die hoop terug,” het hy gesê.
“Die feit dat ’n politieke party die grootste opposisieparty is, beteken nie dat kiesers verplig is om daarvoor te stem nie,” het dr. Corné Mulder, VF Plus- leier gesê.
Mulder het tydens ’n vergadering gesê kiesers moet volgens hom nie bloot op ’n party se grootte besluit wanneer hulle op 4 November hul kruis trek nie. Hy het aangevoer dat kiesers eerder moet kyk na ’n party se standpunte, waardes en vermoë om op plaaslike vlak ’n verskil te maak.
Die argument vorm deel van die VF Plus se “Dis Ons Tyd”-veldtog vir die munisipale verkiesing. Mulder het ook aangevoer dat ’n stem vermors kan word indien ’n kieser vir ’n party stem waarvan die waardes en beginsels nie met sy of haar eie ooreenstem nie.
Die party se veldtog fokus onder meer op plaaslike regering en dienslewering. By die bekendstelling van “Dis Ons Tyd” in Mei het Mulder die ANC se rekord in plaaslike regering gekritiseer en aangevoer dat swak bestuur, korrupsie en gebrekkige dienslewering munisipaliteite benadeel.
Tydens sy besoek aan Pont de Val het Mulder ook die komende verkiesing binne die konteks van ’n proporsionele kiesstelsel bespreek. Die VF Plus se openbare boodskap tydens die toer is dat kleiner partye steeds ’n rol in munisipale rade kan speel en dat ’n kieser se stem nie slegs bepaal word deur watter party die meeste steun kry nie.

Volgens Dr. Mulder is die VF PLus ‘n politieke party in eie reg en daar is duidelike onderskeid tussen die party en die regerende party. Volgens hom weet die VF Plus wat in die land se mense se harte brand. “Tagtig persent van die land se mense beskou hulself as Christene, dis wie hulle is en dit is in lyn met VF Plus,”het hy gesê.
Die party het reeds op 1 September sy Gautengse burgemeesterskandidate aangekondig en gesê hulle wil ná die verkiesing van 4 November ’n groter rol in munisipale regering speel. Jan van Niekerk, VF Plus-leier van die Vrystaat. Dr. Corné Mulder, VF Plus-leier.