Jaarlikse Idols reg om talent te ontgin

Sangers van die omgewing kan hul vere regskud vir die jaarlikse Carletonville Idols sangkompetisie wat weer om die draai is.

Sangers van die omgewing kan hul vere regskud vir die jaarlikse Carletonville Idols sangkompetisie wat weer om die draai is.

Volgens dié kompetisie se organiseerder, Leon van Jaarsveld, word die Idols vanjaar vir die 15de agtereenvolgende jaar aangebied.

“Ons het vanjaar reeds groot belangstelling, nie net vanuit ons omgewing nie, maar ook van sover as Potchefstroom en Vereeniging,” het Van Jaarsveld Dinsdag aan die Herald gesê. Volgens hom bied die Idols weer talle geleenthede vir plaaslike sangers. Nie net kry hulle die kans om voor ‘n groep mense op te tree nie, maar hulle staan ook die kans om hul CD gratis opgeneem te kry indien hulle as die wenners van die kompetisie sou wegstap. Die sangers wat tweede- en derde plekke wen, sal kontantpryse ontvang.

Die kompetisie se eerste uitdunne sal op 6 Junie by die Feathers Club by Western Deep Levels aangebied word. Dit sal om 18:00 begin en inskrywings sal ook tydens die byeenkoms hanteer kan word. Die tweede en derde stelle uitdunne sal onderskeidelik op 13 en 20 Junie gehou word. Op 20 Junie sal al die sangers wat tot op daardie tydstip deurgedring het, teen mekaar te staan kom.
Die semi-finale sal op 27 Junie gehou word terwyl die finale op 4 Julie sal plaasvind. Al dié byeenkomste sal om 18:00 by die Feathers Club gehou word. Diegene wat meer inligting wil hê, kan Van Jaarsveld by 073 826 6890 of sy vrou Leonie by 982 514 2404 skakel.

Exit mobile version