Lindy laat die lewe haar nie onder kry nie
Lindy sal 'n lojale lewensmaat wees, maar onthou: daar is riglyne wat met die aanneming van honde gevolg moet word.
VANDERBIJLPARK – Ontmoet vir Lindy. Die eenjarige Windhond x Afrikanis-mengsel het ‘n hart so groot soos haar spelerige geaardheid en sy is beskikbaar vir aanneming.
“Gemengde-rashonde bied lojaliteit, eindelose liefde en herinner ons daaraan dat ware skoonheid van binne af skyn,” sê Andey Wrigley, woordvoerder van Vaalpets.
Lindy is naby ’n skool gered waar sy wreed behandel is. Sy het egter nie dat dit haar onder kry nie en vandag floreer sy.
Lindy word beskryf as slim, gretig om te leer, goedgemanierd en absoluut wonderlik met ander honde.
“Ongelukkig word Lindy dikwels oor die hoof gesien bloot omdat sy bruin is. Maar haar kleur definieer haar nie, haar vrolike persoonlikheid en liefdevolle siel is eintlik wat van belang is.
“Sy bewys dat elke hond, ongeag voorkoms, ’n kans verdien om gekoester en beskerm te word,” sê Andey.
Lindy, wat mal is oor lekkernye, sal ‘n lojale gesinsmaat wees. Indien iemand belangsel om Lindy ‘n permanente huis en liefde te bied, kan daar gereël word vir ‘n ontmoeting.
Belangstellendes kan Tammy by 071 960 5185, of Andey by 079 140 3041 kontak.
