EntertainmentNews

Pierre van Schalkwyk laat nostalgiese Studentejare herleef

Sommige van die liedjies is soos soet rooiwyn en ander soos Merlot, maar Pierre gaan met dié album beslis ‘n hele paar nuwe musiekharte verower.

 

Op die albumomslag pryk ‘n swart-en-wit foto van ‘n jong man met ‘n kop vol wippende swart krulle en wyse oë wat diep kyk. Sy blou-blou oë staar dromerig – weg van die kamera – in die verte in. Amper asof hy nostalgiese droomkastele bou oor daardie jare wat so vinnig verbygeglip het – sy studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die titel van die sanger-akteur Pierre van Schalkwyk se debuutalbum heet ook, heel gepas, Studentejare.  En een van die hooftemas van die album handel oor stormagtige liefdesverhoudinge tydens studentejare, van foute maak en weer begin.

Oor die titel van die album verklap Pierre: “Ek het een aand saam met vriende gekuier en ons het begin gesels oor ons universiteitsdae. Ek het besef dat ons almal, gedurende daardie periode van ons lewe, dieselfde tipe emosies ervaar en ondervindings gedeel het. Iemand het die woord ‘studentejare’ gebruik en ek het dit vinnig op my selfoon neergeskryf. Die titel van die album is tydens die gesprekke gebore.”

Studentejare is ‘n twaalfsnitalbum waarvan Pierre agt van die liedjies self geskryf het.

‘n Mens moet ook nie die verkeerde afleidings oor die titel van die album maak nie; dit is nie ‘n popgedrewe album met verwoestende elektroniese klanke waarvoor sommige studente so lief is nie. Dit is ‘n mengelmoes van blues soos die liedjie Babelas Blues wat sterk herinner aan Johannes Kerkorrel se styl, van folk soos Hexriviervallei en kaberet. Maar dit is veral die sterk liriekgedrewe elemente wat die album uitsonderlik maak.

Dit is een oomblik in ‘n gesprek. Dit is ‘n gedagte. Dis ‘n woord. Dit is ‘n ou wat met sy kitaar in die straat afloop.

Die liedjies vertel stories, elkeen van hulle, dit is ‘n nostalgiese terugblik na dinge wat verby is soos mooi verwoord in Droomkasteel… “in ‘n sprokiesland sonder pretensies, sonder vrees…”

Pierre, wat ook vroeër vanjaar sy sepiedebuut as Chad in die kykNET-sepie Suidooster ­gemaak het, is ‘n storieverteller. Elke liedjie is soos ‘n visuele toneel uit ‘n rolprent – ‘n tegniek wat hy tydens sy dramaopleiding geleer het.

“Die lirieke is die stroop en die musiek die brood. Wanneer jy die bestanddele bymekaargooi is dit ‘n smaaksensasie. My styl is stories. Elke lied moet ‘n boodskap hê en ek put my inspirasie uit die musiek van sangers soos Laurika Rauch, Anneli van Rooyen en Coenie de Villiers.”

Pierre se fyn waarnemingsvermoë kom veral duidelik na vore in die liedjie, Sendeling van waansin, wat ook vir radiospeellys geoormerk is.  “…op ‘n stofpad met sy swart kitaar is waar jy hom sal vind. Sy donker oë en lang hare – wat waai in die wind…”

Die album, wat deur Riaan Steyn van Traxtudio opgeneem is, is soos ‘n stuk beskuit wat jy in jou koffie dompel. ‘n Proe-proe album, wat dalk net ‘n nuwe era van die musiek- en liriekbeweging inlui. Sommige van die liedjies is soos soet rooiwyn en ander soos Merlot, maar Pierre gaan met dié album beslis ‘n hele paar nuwe musiekharte verower.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button