Warm Lente Dag agter die gasbraaiers
Ons Winkel in Vanderbijlpark. Die een naby Transvalia, het Lente Dag gehou met boereworsrolle en kolwyntjies om hul groter winkel te vier.
VANDERBIJLPARK – Die Streeksorganiseerder: Vaaldriehoek van Solidariteit Helpende Hand, Mariëtte van de Werken en die Solidariteit Helpende Hand Vanderbijlpark-tak was Lentedag van vroeg die oggend bedrywig by Ons Winkel in SW5.

Dié Ons Winkel is groter gemaak en 1 September kon man en muis weer daar gaan inloer en boonop met ʼn soetigheidjie bederf word. Buite het die geur van gebraaide uie en wors die lug gevul. Daar is worsbroodjies verkoop ten bate van Solidariteit Helpende Hand se studiefonds.

Mariëtte så daar is tans 11 studente in die streek vir wie hul help met hul studies en die onkostes beloop R400 000. Van die geld wat by Ons Winkels gemaak word ook gebruik vir die studiefonds.

Ons Winkel in SW5 bied ʼn groot verskeidenheid. Dis ʼn lekker plek om rond te loop en vir winskopies te soek. Behalwe die kwaliteit tweedehandse klere, is daar ook allerhande snuisterye, boeke, bekers, glase en ʼn hele klomp interessante langspeelplate.
Die winkel is ook altyd op soek na skenkings van enige bruikbare artikel van kombuisware, linne, klere, sporttoerusting en speelgoed tot by boeke en skoene. Gaan maak gerus ʼn draai daar. Hulle is geleë oorkant NG Kerk Suid en om die hoek van Butcher Boys.