Local newsNews

Brandstofpryse slaan Vaaldriehoekers se sak harder

Verbruiker kan binnekort nog meer opdok.

VANDERBIJLPARK – Motoriste in die Vaaldriehoek gaan van more af aansienlik meer vir brandstof betaal met die amptelike binnelandse prys van 95-oktaan petrol wat in 12 maande met bykans 25% gestyg het.

Vanaf 2 September kos 95-oktaan petrol R26,92 per liter, teenoor R21,55 in September verlede jaar. Dit is R5,37 meer per liter of ‘n styging van 24,9%.

Die amptelike groothandelprys van 0,005%-swaeldiesel het in dieselfde tyd van R19,4435 tot R30,05 per liter gestyg. Dit is R10,61 meer of ‘n styging van 54,6%.

Diesel se syfer moet egter versigtig geinterpreteer word. Die regering se dieselprys is ’n groothandelprys en diesel se kleinhandelprys by vulstasies word nie gereguleer nie.

Wat ’n motoris uiteindelik betaal, kan dus van een vulstasie tot ’n ander verskil.

Vir ’n motoris wat 50 liter petrol ingooi, beteken die verskil teenoor ’n jaar gelede sowat R268,50 meer per tenk.

Die druk stop egter nie by die vulstasie nie.

Diesel is ’n belangrike koste vir vragmotors, busse, landboumasjinerie, konstruksievoertuie en ander kommersiële voertuie. Die hoër vervoerkoste kan uiteindelik deur ondernemings of verbruikers gedra word.

Dit beteken egter nie dat brandstof vir elke styging in die supermark verantwoordelik is nie.

Stats SA se jongste syfers wys juis hoe uiteenlopend die prentjie is. Algemene inflasie was in Julie 4,3%, terwyl voedsel- en nie-alkoholiese-drankinflasie tot 0,9% gedaal het, die laagste vlak in meer as 16 jaar.

Mieliemeel was 3,1% goedkoper as ’n jaar tevore en witbrood 0,6% goedkoper. Stowevleis het met 7,9% gedaal, steak met 6,1% en maalvleis met 5,8%.

Ander produkte het egter duurder geword. Gesoute beesvleis was 11,8% duurder, vleispasteitjies 7,8%, russians 7,7% en worsies 6,2%.

Die jongste brandstofstyging word hoofsaaklik deur internasionale faktore gedryf. Die DMPR sê Brent-ruolie het tydens die prysberekening van gemiddeld $82,37 tot $87,85 per vat gestyg.

Internasionale pryse vir verfynde petroleumprodukte het ook skerp gestyg weens aanbodtekorte en laer wêreldvoorraad.

Die sterker rand het die styging gedeeltelik gedemp. Die rand het gemiddeld van R16,46 tot R16,26 teenoor die dollar versterk.

Die staat se slate-heffing styg egter ook met 21,90 sent per liter tot 83,28 sent. Petrol kry verder ’n verhoging van 4,9 sent per liter vir die jaarlikse loonaanpassing van vulstasiepersoneel.

Daar is geen amptelike syfer wat wys hoeveel van ’n gemiddelde huishouding se inkopiemandjie se styging direk aan brandstof toegeskryf kan word nie.

Wat wel duidelik is, is dat die Vaal-verbruiker nou meer betaal om by die werk, winkels en skole uit te kom, terwyl ondernemings meer moet betaal om mense en goedere te vervoer.

Die groter vraag is hoe lank die hoër vervoerkoste deur ondernemings geabsorbeer kan word voordat dit in pryse begin wys.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button