VF Plus se nuwe burgemeesterskandidaat in Emfuleni
"Die kandidate verstaan dat ’n burgemeester nie aangestel word om ’n titel te dra nie, maar om verantwoordelikheid vir resultate te aanvaar" - Jaco Mulder.
Jaco Mulder, VF Plus-LPW en provinsiale leier: Gauteng, het vandag sy burgemeesterskandidate vir Gauteng se drie metrorade, ses plaaslike munisipaliteite en twee distriksmunisipaliteite bekend gestel.
“Dis ’n span wat gereed is om verantwoordelikheid te neem en plaaslike regering weer te laat werk. Gauteng se inwoners het genoeg gehad van vervalle infrastruktuur, water- en kragonderbrekings, rioolstortings, slaggate, swak finansiële bestuur en politieke onstabiliteit,” sê Mulder.
Die groot vraag in Emfuleni was: Wie gaan die leisels by Gerda Senekal oorneem na haar bedanking uit die party.
Die ervare Cobus Cato is deur Mulder verkies as die geskikte VF Plus-burgemeesterskandidaat in Emfuleni.
Julio Agrella is die burgemeesterkandidaat vir die Sedibeng-distrik.


“Munisipaliteite behoort ekonomiese enjins te wees wat investering, ontwikkeling en werkskepping moontlik maak. In te veel gevalle het hulle egter remskoene vir groei geword. Die herstel van Gauteng se ekonomie begin daarom by die herstel van plaaslike regering,” voer Mulder aan.
Volgens hom bring die verkose kandidate ‘nkombinasie van ervaring, plaaslike kennis, leierskap en ’n verbintenis tot verantwoordbare regering na die tafel.
Hy beklemtoon dat korrupsie en vermorsing moet plek maak vir kundigheid, finansiële dissipline en aanspreeklikheid.
“Na die verkiesing van 4 November 2026 staan die VF Plus gereed om ’n groter en sterker rol in Gauteng se munisipale regerings te speel,” sluit Mulder af.
