EntertainmentLifestyleNewsNews

Angelique trek die “Wye Wêreld” se aandag met dié enkelsnit

“Drome het gelukkig nie 'n vervaldatum nie, en daar is nie ‘n beter tyd as nou nie”

 

Lydia Winchester

Hierdie Vrouemaand hou sangeres Angelique Greffrath die Evas se naam hoog met n enkelsnit wat elke vrou diep sal aanraak.

Wye Wêreld is ‘n pop-ballade wat haar heserige Bonnie Tyler-stem soos ‘n satynhandskoen pas. “Ek is met ‘n heserige stem gebore,” spot die sangeres.

Die liedjie handel oor verlore liefde, ‘n sprokiesland waarna almal op soek is, ontmoediging en dan eintlik ook vrede en aanvaarding as ‘n vrou ook haar geluksplekkie in die wye wêreld kan vind.

Laasgenoemde word emosioneel verwoord wanneer sy sing: “…wens ek was jou engel, wens ek was jou traan; Wens ek kon die fyner kunsies van die lewe meer verstaan.”

Angelique was deel van ‘n Johannesburgse rockgroep, Tradisie Masjien, wat sestien jaar gelede verhoë aan die brand gerock het. Wye Wêreld is gedurende daardie musiekfase van haar lewe gebore. Dié liedjie was ‘n gesamenlike pennevrug van haar en Johan Meyer, die groep se kitaarspeler en agtergrondsanger. Johan het die oorspronklike lirieke as n duet geskryf, en Angelique het dit onlangs verwerk in n solo-lied.

“Die liedjie is in daardie stadium uit wanhoop en terleurstelling gebore,” vertel Angelique. “n Liefdesverhaal wat net nie in ‘n sprokiesverhaal wou verander nie.  Die liedjie was ‘n wegholtreffer, maar die hartseer oor die verlore liefde het net te groot begin raak. Ek het later besluit om die groep te verlaat.”

Wye Wêreld val net so lekker op die oor soos ‘n Kit Kat-stafie na ‘n harde dag se arbeid. Angelique het die liedjie gedurende die eerste paar weke van die grendeltydperk weer afgestof, herverpak en professioneel deur Arnold de Wet van Sweep Sound Productions laat opneem.

Gedurende die inperkingstydperk het ek besluit om weer my passie en my drome om musiek te maak en te sing, te laat herleef. Die lied is en was nog altyd na aan my hart, deel van my menswees, deel van my groei,” verklap die meisie oor waarom sy besluit het om die liedjie as haar eerste enkelsnit vry te stel.

Angelique het, nadat sy Tradisie Masjien verlaat het, aan verskeie sang- en talentkompetisies deelgeneem, maar het vir ‘n wyle haar sangloopbaan opsy geskuif om op ma-wees en die sakewêreld te fokus.

Sy is egter nie onbekend met die vermaakwêreld nie.  Dié mooi blondekop was net ‘n jaar oud toe sy haar televisiedebuut gemaak het. “Ek het in ‘n Steri-Nappi-advertensie verskyn,” vertel sy. Die baba was net té oulik vir woorde en dit was nie lank nie of sy het in nog ‘n paar televisie- en tydskrifadvertensies verskyn.

“My passie vir musiek het deur die jare net sterker geword en dit is my hartsbegeerte om vir musiekliefhebbers te wys waartoe ek – en my stem – in staat is.”

Die sanger Hugo, wat in die vroeë 2000’s bekendheid verwerf het met Deur die Straights, was een van dié wat haar talent herken en raakgesien het. “Ek het met Hugo via sosiale media kontak gemaak en voorgestel dat ons Deur die Straights as ‘n duet opneem wanneer die inperktyd iets van die verlede is, maar ek gaan nie nou veel meer daaroor weggee nie.”

Die vrystelling van Wye Wêreld is net die begin van baie nuwe en opwindende dinge vir Angelique.  Sy verklap ook dat sy gedurende hierdie stil tyd druk besig was om aktief aan haar droom te werk. Elke dag wat verbygaan, word die behoefte om te sing en nuwe musiek te skep net groter, iets wat sy net eenvouding nie langer opsy kon skuif  nie. “Drome het gelukkig nie ‘n vervaldatum nie, en daar is nie ‘n beter tyd as nou nie,” sê sy.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button