News

Vaaldam loop oor, maar Gauteng word gemaan om water te spaar

Gauteng se hoë waterverbruik wek kommer. Moontlike sterk El Niño-toestande kan die druk vererger.

VANDERBIJLPARK – Die Vaaldam is meer as 100% vol, maar dit beteken nie dat inwoners van die Vaaldriehoek en die res van Gauteng hul waterverbruik na willekeur kan verhoog nie. Ondanks die hoë damvlakke waarsku die Departement van Water en Sanitasie dat toenemende waterverbruik en moontlike sterk El Niño-toestande druk op die provinsie se watervoorsiening kan plaas.

Volgens die jongste beskikbare weeklikse syfers van die departement was die Vaaldam op 2 November 105,1% vol, teenoor 106,1% die vorige week. Dit is steeds hoër as die 101,1% wat gedurende dieselfde tydperk verlede jaar aangeteken is.

Die Vaaldam, wat ‘n belangrike rol in Gauteng se watervoorsiening speel, het ‘n normale opgaarkapasiteit van sowat 2,56 miljard kubieke meter water. Met die jongste lesing was daar ongeveer 2,69 miljard kubieke meter water in die dam.

Die vyf damme wat in Gauteng se provinsiale damstatistiek ingesluit word, was gesamentlik 98,8% vol, teenoor 99% die vorige week. Die Vaaldam word afsonderlik onder die Vrystaat se damstatistiek aangeteken.

Die Departement van Water en Sanitasie het intussen opnuut ‘n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamiger te gebruik.

Volgens die departement gebruik inwoners van Gauteng gemiddeld 250 liter water per persoon per dag. Dit is 77 liter meer as die internasionale gemiddelde van 173 liter.

Die departement sê die toenemende vraag na water, veral gedurende warm weer, plaas verdere druk op die provinsie se watervoorsieningstelsel.

Die probleem word vererger deur groot hoeveelhede water wat weens lekkasies en ander verliese in munisipale stelsels verlore gaan. Volgens die departement beloop nie-inkomstegenererende water sowat 47%, waarvan fisieke waterverliese ongeveer 27 persentasiepunte uitmaak.

Daar is ook kommer oor die komende somer.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ‘n groot waarskynlikheid van sterk El Niño-toestande gedurende die 2026/27-somerseisoen. Dié weerpatroon kan met ondergemiddelde reënval en hoër temperature gepaardgaan.

Minder reën kan die invloei na damme verminder, terwyl hoër temperature verdamping en waterverbruik kan verhoog.

Vir inwoners van die Vaaldriehoek is die hoë vlak van die Vaaldam dus gerusstellend, maar dit bied geen waarborg teen toekomstige watertekorte nie.

Die departement verduidelik dat Rand Water jaarliks slegs ‘n vasgestelde hoeveelheid water uit die geïntegreerde Vaalrivierstelsel mag onttrek. Hierdie toekenning kan nie bloot verhoog word omdat die damme vol is of die vraag na water toeneem nie.

Dit beteken dat watertekorte in Gauteng kan voorkom selfs wanneer daar genoeg water in die Vaaldam is. Die beskikbaarheid van water in damme en die vermoë om dit aan huishoudings te lewer, is twee verskillende sake.

Die departement moedig inwoners aan om korter te stort, lekkende krane en toilette te herstel en water nie onnodig te laat loop nie.

Tuine behoort verkieslik tussen 18:00 en 06:00 natgemaak te word om verdamping te beperk. Inwoners word ook versoek om by hul onderskeie munisipaliteite se waterbeperkings te hou.

Die departement sal damvlakke, reënval en waterverbruik deurlopend monitor. Indien watervoorrade onder toenemende druk kom, kan beperkings op wateronttrekking vir landbou, nywerhede en waterverskaffers ingestel word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button