Plaaslike model mik na internasionale kroon!
Suhané Bosch, oudleerling van Hoërskool Driehoek, is onder die finaliste vir Supermodel International SA
(Foto bo: Die pragtige Vaaldriehoekse model. Suhané Bosch. Foto: Ryno Steyn (DvB Productions)
VANDERBIJLPARK. – Op 28 November gaan die room van Suid-Afrika se jong modelle byeenkom vir een van die jaar se modehoogtepunte: Supermodel International SA. En vanjaar is daar ‘n pragtige Vaaldriehoekse inwoner, Suhané Bosch (19), onder die finaliste!
Suhané, ‘n oudleerling van die Hoërskool Driehoek, het pas verneem dat sy onder die Top Tien-deelnemers is en dus ‘n finalis in die kompetisie gaan wees. Sy het in vorige jare reeds met gesogte titels soos Mej. Tiener Gauteng en Mej. Elite SA weggestap.
Sy word deur Natasha Menino-Costa van Ace Models in Vanderbijlpark afgerig.
Die Supermodel International-kompetisie bemagtig jong vroue met die kennis om verandering in gemeenskappe in nood teweeg te bring. Dit is ‘n platform wat deelnemers die geleentheid gee om liefdadigheids- en kultuurambassadeurs binne Suid-Afrika en die breër internasionale gemeenskap te word. Die titelhouers is veral betrokke by liefdadigheidsaksies in hul plaaslike gemeenskappe.Die wedstryd wat in November plaasvind, sal in ooreenstemming met Covid-regulasies aangebied word.
Die Vaaldriehoek se oë sal op 28 November beslis gerig wees op die mooi Vanderbijlparkse nooi wat haar dorp en streek by die nasionale wedstryd gaan verteenwoordig.
Die wenner sal Suid-Afrika in 2021 by die internasionale kompetisie verteenwoordig.

