Sangeres Cézanne leef haar uit wanneer sy saam met mense kan werk.
Uiteindelik kan haar aanhangers nou uitsien na ‘n nuwe enkelsnit, asook haar eerste musiekvideo.

Cézanne Yzelle is ‘n dinamiese kunstenaar en sy dra haar hart op haar mou wanneer sy sing. Dit is vir haar belangrik om eg te wees en ‘n konneksie met haar gehoor te maak. Met opleiding in klavier en sang, spesialiseer sy in ‘n verskeidenheid van genres soos Jazz, Blues, Ligte Klassiek, Musiek Teater asook Pop en Rock. Sy is ‘n ervare solis en stem afrigter.
Die verhoog is haar huis en sy het hom al met menige groot name in die industrie gedeel, onder andere Amanda Strydom, Jan-Blohm, Riana Nel, Corlea Botha, Jo Black en Kyle Grant.
Haar eerste enkelsnit Dis Ek speel tans op verskeie radiostasies regoor SA. Jy kan ook haar tweede enkelsnit Human Hero vind op al die “streaming platforms”.

Alleen, saam met haar band of as solis vir die bekende groep; Arco Musica, was Cézanne al deel van ‘n verskeidenheid groot produksies, korporatiewe funksies en vertonings.
Sy maak in 2010 haar TV debuut op die leefstyl en vermaaklikheidsprogram Glitterrati, met ‘n huldeblyk aan Johannes Kerkorrel; Persreën. Sy verskyn in 2012 op Jakkals Jol as gaskunstenaar.
In 2014 sluit sy aan by die groep Arco Musica as solis vir ‘n magdom suksesvolle produksies. Sy tree ook graag saam die Bloemfonteinse gemeenskapsorkes in vertonings soos “Best of Broadway” en “Best of Bond”.
Teater is ook een van haar groot passies. Cézanne wys weer haar veelsydigheid in haar langtermyn vertolking van Dr Piet Padda in die gewilde kinderproduksie Hans Haas wat jaar na jaar uitverkoop by die Vrystaat Kunstefees.
In 2017 gebruik sy haar ander kreatiewe talente agter die verhoog as een van die jongste regisseurs vir die suksesvolle produksie “Arco & ADAM in Symphony”.
In 2018 vervaardig Cézanne haar eerste solo vertoning “Rock Divas”. Die vertoning was ‘n huldeblyk aan al die groot stemme en was baie goed ontvang.
Cézanne leef haar uit wanneer sy saam mense kan werk. In 2019 vergesel sy Jacobus Silwer as sangmaat in sy huldeblyk aan Andrea Bocelli. Sy sing ook gereeld saam Mario Lategan in onder andere hul uitvoering van “A Night At The Theatre” waar sy haar veelsydigheid ten toon stel.
Sy is ook gekies as ‘n solis vir die OFM Pop Extravaganza saam met Caroline Grace, Timothy Moloi, Tarryn Lamb, en Joseph Clark om pop liedere te sing met ‘n simfoniese aanslag. Sy deel ook saam groot name die verhoog in Willie Venter se “Moments”.
2020 was ‘n moeilike jaar vir almal en veral kunstenaars moes leer hoe om innoverend te wees. Cézanne het in die grendeltydperk as deel van Arco Musica verskeie “Live Stream” konserte aangebied. Een van hierdie konserte was “Music from the Movies” waar sy saam Kyle Grant al die fliek gunstelinge gesing het.
Waar Ek Moet Wees
Uiteindelik kan haar aanhangers nou uitsien na ‘n nuwe enkelsnit, asook haar eerste musiekvideo. Waar Ek Moet Wees, geskryf deur mede-Bloemfonteiner Arno De Wet, is ‘n lied geskryf in ‘n tyd waar verandering genoodsaak is. Elkeen van ons weet dat verandering soms nodig is om te kom waar jy wil en moet wees. Hierdie lied vang die essensie vas van hoe nodig dit is om te weet waar jy vandaan kom, om jou eie foute en keuses raak te sien en dan die verandering te maak om weer op die regte pad te kom.
Dit is egter net deur jou spore te leer dat jy kan kom waar jy moet wees.

Luister na ‘n uittreksel uit Cézanne Yzelle se “Waar ek oet wees”
