Entertainment

Enslin-gesin gebroke nadat hul ‘Moeki’ verdwyn

Hul grootste Kersgeskenk sal wees om hul Weimaraner terug te kry

 

Terwyl almal gereedmaak vir ‘n lekker Kersfees is daar net trane en hartseer in die huis van die Enslin-gesin van Vaalpark nadat hul geliefde Weimaraner, Moeki, Saterdagaand per ongeluk uit die erf gekom en verdwyn het.

Mev. Elsa Enslin vertel meer oor Moeki, hul Weimaranertefie, wat die afgelope vyf jaar soos ‘n “eerste kind” in hul huis was.

“Moeki is ‘n ‘jagter’ en vang gereeld voëls, akkedisse en motte. Sy is mal oor aandag. Ons het haar al 5 jaar – my man het haar vir my gekoop vir ons huweliksherdenking. Sy swem graag en is mal oor water. Sy dink sy is ‘n mens. As ons aan tafel sit en eet, sit sy op ‘n stoel en kyk hoe ons eet, maar probeer nooit kos vat nie.

My twee kinders klim bo op haar, trek haar ore en stert en sy gee glad nie om nie. As jy vir haar koekies gee, sit sy en gee ‘n poot – nogal haar linkerpoot. Sy is soos ons “eerste baba”. Sedert Moeki verdwyn het is ons Great Dane, Wingnut, besig om homself dood te treur. Hy lê die hele dag by die hek en wil nie eet nie. My kinders help soek en ons seuntjie van 3 het gister heeldag wat ons gery het en na haar gesoek het gebid: “Jesus, bring aseblief vir Moeki, Amen!”

Sy het altyd soos ‘n kind in die swembad in my arms kom sit of op my rug geklim. Ons hou nie op soek nie. My man ry elke dag ‘n uur voor werk en gaan soek, en weer ‘n uur na werk. Ek is ongelukkig in ‘n nekstut na ‘n operasie so ek kan nie bestuur nie maar vriendinne help my en as ek iets hoor van iemand wat haar dalk gesien het, vat hulle my om te gaan kyk. My man is verpletterd. My kinders het vanoggend die Great Dane koekies gevoer en het heeltyd een koekie teruggehou en geskree: “Moeki, hier is ‘n koekie”. Dit breek my hart.

Ons weet nie meer nie. Ons was al DBV toe en het elke veearts gebel. Soveel moontlik op Facebook-groepe geplaas. Daar was twee mense wat ons laat weet het hulle dink hulle het haar gesien maar tot dusver was dit nie sy nie. Ons het Vaalpark al platgery. Ons gaan nie ophou tot ons haar gekry het nie en bied ‘n beloning aan vir enigiemand wat haar vir ons kan terugbring.

Ons wil haar net veilig by die huis hê. Terug by haar familie. As iemand haar raakgery het sal ons dit ook net wil weet – geen kwade gevoelens nie. Sy was uit die erf. Maar om nie te weet waar sy is nie maak ons dood.

* As iemand dalk vir Moeki opmerk, skakel die Enslins asseblief by 082 674 6102. Deel hierdie plasing asseblief so wyd as moontlik op Facebook.

 

************************************************

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button