EntertainmentLocal newsNationalNewsNews

Tydkapsule uit 1938 aan FAK oorhandig vir veilige bewaring

VEREENIGING. - ’n Tydkapsule vol dokumente uit die jaar 1938, wat dekades lank agter ’n marmerplaatjie van ‘n monument in Bethulie in die Vrystaat versteek is, is Saterdag, 30 Januarie by die Vredesmonument in Vereeniging aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) oorhandig vir veilige bewaring.

Volgens Kobie Ströh, ’n plaaslike geskiedeniskenner en “monumentjagter” wat gehelp het om hierdie kultuurskat veilig te laat bewaar, is tydkapsules soos dié in die jaar 1938 (100 jaar na die Groot Trek) in hoekstene van Afrikanermonumente geplaas om in 2038 – 200 jaar ná die Groot Trek van 1838 – oopgemaak te word.

“Die kapsules bevat tipies iets uit 1938 om die vorige geslagte mee te onthou en bied ‘n kykie na die lewe in daardie tyd.

Tydkapsules bevat tipies dokumente uit 1938 en is in Afrikanermonumente versteek. Foto: Verskaf

“Naamlyste, briewe, kaartjies, gedenkkoeverte, kommetjies, klerasie, mampoer, Bybels, afskrifte van die Bloedriviergelofte, afskrite van Piet Retief se traktaat met Dingaan is alles voorbeelde van aandenkings wat in soortgelyke tydkapsules geplaas is,” vertel Ströh.

Dié spesifieke kultuurskat wat gevind is, is ‘n bottel vol dokumente uit 1938 wat verwys na die Simboliese Ossewatrek van 13 Oktober 1938 en die Fakkelloop om die Groot Trek van ‘n eeu tevore te herdenk.

Die ATKV, FAK en Die Voortrekkers, drie organisasies wat ‘n groot rol in die gekiedenis van die Afrikaner gespeel het, het in 1938 ‘n Simboliese Ossewatrek en ‘n Fakkelloop gehou om die Groot Trek te herdenk, maar ook om Afrikaans te bevorder en nasietrots te bou.

Die dokumente is in die bottel geplaas en waarskynlik op 16 Desember (Geloftedag) 1939 agter die marmerplaat van die Ossewamonument in Bethulie versteek.

Die Ossewa Monument in Bethulie is opgerig ter herinnering aan die besoek van Louis Trichardt se voortrekkerwa aan Bethulie op 16 Desember 1938 en bevat waspore wat op sementblad vasgelê is, ‘n klipstapel wat as voetstuk vir die monument dien en ‘n beeld van ‘n ossewa wat uit gesmelte patroondoppies uit die Anglo-Boereoorlog gegiet is. Inlasfoto: Die tydkapsule is vermoedelik in die jaar 1938 agter die marmerplaatjie van die Ossewa Monument op Bethulie versteek en eers in 2018 ontdek. (Op die foto is die oud-kuratrise van die Pelisser-museum op Bethulie, mev. Ronel Botha, en haar man). Foto’s: Verskaf

Die monument ter herinnering aan die besoek van Louis Trichardt se voortrekkerwa aan Bethulie op 16 Desember 1938 bevat waspore wat op sementblad vasgelê is, ‘n klipstapel wat as voetstuk vir die monument dien en ‘n beeld van ‘n ossewa wat uit gesmelte patroondoppies uit die Anglo-Boereoorlog gegiet is.

Volgens Ströh is die tydkapsule op 6 Februarie 2018 gevind toe ‘n inwoner van Bethulie aangebied het om letterwerk op ‘n marmerplaatjie van ’n plaaslike monument, die Ossewamonument, te herstel.

“Op 6 Februarie het hy die marmerplaatjie afgehaal en die tydkapsule daar agter ontdek.

“In ‘n donker kamer, met handskoene aan, is die bottel versigtig oopgemaak. Die dokumente binne in die tydkapsule het ‘n kykie op die lewe in 1938 gegee.

Die tydkapsule in ‘n houtkissie wat geskenk, ontwerp en gemaak is deur  die Monumentjagters, Sudo-Hub drukkers en Ignus Burger van WoodArt.

“Die papier het wonderlik behoue gebly en die kwaliteit van die papier is verstommend,” vertel Ströh. Die bottel is aanvanklik in ‘n kartondoos in ‘n kluis in Bethulie se museum weggebêre, maar is in Desember 2020 aan Gys en Kobie Ströh, die monumentjagters van die Vaaldriehoek, oorhandig deur Trudie Venter, ‘n afgetrede geskiedenisboekskrywer van Bethulie, sodat hulle dit saam met hulle kan neem vir veilige bewaring by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Saterdag 30 Januarie het die Ströhs hierdie kosbare tydkapsule in ‘n houtkissie namens die Monumentjagters, die Vaaldriehoek Kultuurnetwerk, die Genealogiese Genootskap van die Vaaldriehoek en die Suid-Afrikaanse Weermagveterane se Kiewiet-eenheid in Vereeniging aan Marianda Schlebusch, FAK-verteenwoordiger oorhandig vir veilige bewaring.

Plaaslike monumentjagters Gys en Kobie Ströh, oorhandig Saterdag 30 Januarie die tydkapsule wat in Bethulie gevind is aan Marianda Schlebusch, wat die FAK se kultuurnetwerke verteenwoordig, by die Vredesmonument in Vereeniging.

Schlebusch het almal teenwoordig vir die kosbare manier waarop dit aan haar oorhandig is bedank en onderneem om die kultuurskat na die argief te neem om vir die nageslag te bewaar.

* Die toestand van hierdie tydkapsule wat in Bethulie gevind is, is in skrille kontras met die toestand van die tydkapsule wat verlede jaar in die Voortrekkers se Fakkelmonument ontdek is toe die monument vanaf sy oorspronklike staanplek in Voortrekkerstraat na die Vredesmonument (agter die Stadskouburg) geskuif is. Ströh vertel: “Vereeniging se Fakkelmonument het ook so ‘n tydkapsule gehad. Dokumente en briewe is deur die reëlingskomitee onder die monumentjie gebêre, maar ongelukkig nie in ‘n houer nie. “Water, miere en verhoudering het veroorsaak dat dit heeltemal verbrokkel het en heeltemal vergaan het. Slegs vlokkies het oorgebly waarvan nie eers ‘n brokkie gered kon word nie,” vertel sy.

Die Voortrekkers se Fakkelmonument wat onlangs vanuit Voortrekkerstraat na die Vredesmonument verskuif is. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button