EntertainmentLocal newsNationalNewsNews

Swak selfoonsein weens die diefstal van batterye by basisstasies’

Die nasionale selfoondiensverskaffer Vodacom, sê die swak selfoonsein wat reeds maande deur inwoners van Drie Riviere ervaar word, is weens vandalisme en die diefstal van batterye by basisstasies, sowel as as kragonderbrekings weens beurtkrag.

VEREENIGING. – Inwoners van Drie Riviere kla reeds vir maande dat hulle buiten gereelde kragonderbrekings en lae waterdruk, ook nie selfoonontvangs in die gebied het nie. Vaalweekblad het by Vodacom gaan uitvind waarom die selfoonontvangs die meeste van die tyd so treurig is

 

Byron Kennedy, ‘n woordvoerder vir Vodacom, verduidelik: “’n Ondersoek na die aangeleentheid toon dat onlangse netwerkprobleme in Drie Riviere deur vandalisme en die diefstal van batterye op ons basisstasies en kragonderbrekings en beurtkrag veroorsaak is,” sê hy.

Kennedy sê die selfoondiensverskaffer se basisstasies in die omgewing is al by talle geleenthede gevandaliseer.

“Basisstasies van plaaslike netwerkverskaffers word toenemend geteiken vir diefstal en vandalisme en wat ons deur ons ondersoeke vind, is dat georganiseerde sindikate met unieke benaderings vorendag kom om hierdie misdaad te pleeg.

“Plaaslike netwerkverskaffers ondervind daagliks inbrake op ons basisstasies.

“Sellulêre basisstasies is die enigste vorm van verbindings wat in baie gemeenskappe beskikbaar is en as misdadigers hierdie basisstasies teiken om diesel, kragkabels en hoofsaaklik batterye te steel, kan hulle honderde, indien nie duisende mense, afsny.

“Elke voorval kan daartoe lei dat die netwerk in daardie gebied dae lank af is en kan besighede en almal wat op die internet vertrou om te studeer, ernstig beïnvloed.

“Ons sien herhaaldelik situasies waar mense nie noodoproepe kan maak nie en deur hierdie misdadigers in gevaar gestel word.

Vroeër of later sal hierdie misdadigers iemand se lewe kos,” sê Kennedy.

Hy sê netwerkverskaffers verloor jaarliks honderde miljoen rand weens diefstal, vandalisme en skade aan basisstasies en dat dit uiteindelik die koste van mobiele dienste verhoog.

Volgens Kennedy het Vodacom onlangs sy stryd teen hierdie kriminele aktiwiteite versterk en nuwe maatreëls ingestel om seker te maak dat die diewe gevang en vervolg word.

“Ons werk nou saam met wetstoepassingsagentskappe en sekuriteitsondernemings om diewe in hegtenis te neem vir vervolging,” vertel hy.

Kennedy het ‘n beroep op die publiek gedoen om verdagte aktiwiteite rondom Vodacom se basisstasies by die polisie aan te meld.

“Dit is in almal se beste belang om op te tree voordat hul sein afgesny word.

“Ons wil gewone lede van die gemeenskap versoek om voorvalle van diefstal van batterye of vandalisme op die terrein aan te meld deur ons gratis nommer: 082 241 9952 of die polisie by 10111 te kontak,” sê Kennedy.

Hy sê dat heelwat van inwoners se netwerkprobleme voor die deur van kragonderbrekings gelê kan word.

“Wanneer beurtkrag en ander kragonderbrekings plaasvind, kan selfoontorings met behulp van batterye en ‘n kragopwekker aanhou werk.

“As die kragonderbreking lank duur kan die batterye leegloop en die toring ophou werk.

“Ons het proaktiewe maatreëls ingestel om die gevolge van wydverspreide beurtkrag te verminder. Ons het byvoorbeeld kragopwekkers op talle terreine in die omgewing ontplooi en werk so hard as moontlik om klante verbind te hou,” vertel Kennedy.

Volgens Kennedy kyk Vodacom daarna om van hul toerusting (‘n “fuel cell”) vanaf Orange Farm na Drie Riviere te skuif om die netwerkverbinding vir hul klante in die omgewing te verhoog.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button