Dodelike breinvliesontsteking: Vaal-ouers, ken dié gevaartekens
Moenie die gevaartekens mis nie, wees proaktief.

VAALDRIEHOEK – ’n Kind kla oor hoofpyn, ontwikkel koors en voel naar. Dit lyk dalk na gewone griep, maar agter dié simptome kan ’n lewensgevaarlike siekte skuil wat binne enkele ure ’n kind se lewe kan eis.
Die dood van twee jong kinders die afgelope week weens breinvliesontsteking behoort ouers in die Vaaldriehoek opnuut bewus te maak van die gevaartekens van dié siekte.
Die agtjarige Aidan Westraad, ’n graad 2-leerder van Laerskool Laurus op Oudtshoorn, is op 1 November aan meningokokkale breinvliesontsteking oorlede.
Enkele dae later is die dood van Fransie van den Bergh, ’n jong Valke-rugbyspeler van Springs, ook aangemeld. Volgens sy ma het aanvanklike mediese toetse op breinvliesontsteking gedui wat met ’n ernstige sinusinfeksie verband gehou het.
Hoewel daar geen bevestigde verband tussen die twee sterftes is nie, wys dit hoe ernstig breinvliesontsteking kan wees en waarom ouers nie vroeë waarskuwingstekens moet ignoreer nie.
Breinvliesontsteking, ook bekend as meningitis, is ’n ontsteking van die beskermende vliese rondom die brein en rugmurg. Dit kan deur verskillende virusse en bakterieë veroorsaak word.
Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) kan bakteriële breinvliesontsteking vinnig lewensgevaarlik word.
Die eerste simptome sluit skielike koors, erge hoofpyn, ’n stywe nek, naarheid, braking en gevoeligheid vir lig in.
Ouers moet veral bedag wees op kinders wat buitengewoon slaperig of verward raak, moeilik wakker word of skielik baie siek lyk.
Ander gevaartekens sluit koue hande en voete, vinnige asemhaling, stuiptrekkings en ’n donkerrooi of pers veluitslag in wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie.
By babas kan die simptome minder opvallend wees. Swak voeding, aanhoudende huil, ongewone slaperigheid, slapheid en ’n sagte plekkie op die kop wat uitbult, kan op ernstige siekte dui.
Ouers moet nie wag totdat ’n uitslag ontwikkel of al die simptome teenwoordig is voordat hulle hulp soek nie. Nie elke pasiënt ontwikkel ’n uitslag nie.
Meningokokkale siekte kan ook bloedvergiftiging veroorsaak, wat binne ’n kort tyd lewensgevaarlik kan word.
Die bakterieë kan deur noue kontak met asemhalings- en keelsekresies versprei. Gesondheidswerkers kan voorkomende antibiotika aanbeveel vir mense wat noue kontak met ’n pasiënt met bevestigde meningokokkale siekte gehad het.
Entstowwe teen sekere soorte meningokokkale bakterieë is ook in Suid-Afrika beskikbaar. Ouers kan hul huisdokter of pediater daaroor raadpleeg.
Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het vroeër vanjaar 11 bevestigde gevalle van meningokokkale siekte, waaronder een sterfte, tussen 1 Januarie en 22 Februarie aangemeld. Die departement het destyds beklemtoon dat dit nie op ’n uitbreking gedui het nie. Daar is tans geen bevestigde aanduiding dat die twee onlangse sterftes met mekaar verband hou of dat breinvliesontsteking in die Vaaldriehoek toeneem nie.
