EntertainmentLifestyleNationalNews

7de Laan se akteurs kuier in die Vaal!

7de Laan word sedert 5 April net van Maandae tot Woensdae om 18:00 op SABC2 uitgesaai.

 

Die Vaalrivier by Vanderbijlpark was onlangs die speelplek én werksplek van ‘n groep ongewone besoekers: die akteurs van die TV-sepie 7de Laan.
Inwoners van die Vaal kon reeds verlede week na die eerste episodes kyk wat in ons eie Vaaldriehoek verfilm is.
Nog episodes wat hier geskiet is kan op 12 en 13 April gesien word. 7de Laan word sedert 5 April net van Maandae tot Woensdae om 18:00 op SABC2 uitgesaai.
Volgens Kayleen Bessit, publisiteitsbeampte van 7de Laan, wou hulle graag te midde van die Covid-inperking ‘n paar “location shoots” in ‘n pragtige en veilige natuuromgewing in Gauteng doen. Verskeie bestemmings is oorweeg, maar die rivier by Vanderbijlpark het gewen!
“Ons skiet meestal in die ateljee, so die natuurskoon in die Vaal was verfrissend,” sê sy.
Die filmspan sowel as agt akteurs (ses permanente en twee gasspelers) is vir vyf dae ingeboek by die deftige Riverside Sun Hotel met sy golwende grasperke en goedversorgde tuine aan die oewer van die Vaalrivier.
“Die diens wat ons van die hotel se span gekry het, was uitmuntend,” sê sy.
Weens die veeleisende verfilmingskedule was daar min tyd was vir ontspanning, maar kykers kry darem ‘n geleentheid om ‘n hele paar prettige aktiwiteite op die water te sien.
7de Laan se kreatiewe span glo in balans: Hoewel daar die afgelope jare heelwat jong talent in 7de Laan verwelkom is, sal daar altyd genoeg interessanthede wees om ouer kykers ook vasgenael te hou. sê Kayleen.
En wat kan kykers in die komende maande verwag? Kayleen verklap dat ‘n paar ou bekende gesigte weer gesien gaan word. Dan is daar ook ‘n groot troue wat voorlê, sowel as hartroerende stories wat kykers sal laat regop sit. Hou maar ‘n groot boks snesies gereed want daar is ‘n paar tranetrekkers op pad, maar daar gaan ook heelwat humoristiese tonele wees waar kykers lekker gaan lag! 7de Laan se storielyn handel dikwels oor aktuele sake, dus gaan die span binnekort ook ‘n sosiale aangeleentheid met betrekking tot kinders aanpak.
Die 7de Laan-span bedank hul Vaaldriehoekse kykers vir hul lojaliteit en vir die gasvryheid waarmee hulle in die Vaal ontvang is. “Ons gaan beslis weer kom kuier,” belowe Kayleen.

FOTO’s: Chilli Picnic Fotografie

Die akteurs en filmspan van 7de Laan kuier ‘n rukkie saamop die pragtige terrein van die Riverside Sun Hotel
‘n Paar akteurs van 7de Laan wat in die Vaaldriehoek kom uitspan het: Voor van links: Rubin Wissing, Beata Bena en Sesuthu Ntombela. Agter van links: Dimpho More, Clint Aplon, Blyde Smith en Rikus Strauss.
Akteurs van 7de Laan skep ‘n paar oomblikke asem langs die Riverside Sun Hotel se swembad terwyl die filmspan gereed maak om ‘n volgende toneel te skiet. Foto’s: Chilli PicNic

*****************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button