Kunsfees vier die waarde van die kunste!
Die Vaaldriehoek Kunstefees 2021 het weer in Augustus plaasgevind nadat dit verlede jaar weens die Covid-19 pandemie afgestel moes word. Fees organiseerder, Hilda Kloppers vertel self haar indrukke van hierdie jaar se fees.
Ons almal weet hoe om fisies fiks te bly, maar die belangrikheid van emosionele en geestelike stamina word dikwels onderskat.
Om te fokus op kreatiwiteit en jou vaardighede te verbeter, is ‘n uitstekende teenvoeter vir die negatiewe invloed van die milieu waarin jong mense hulle vandag bevind.

Agter: Elsa Boshoff, Aldiné Venter, Anri Wessels, Adri Van Der Merwe. Middel: Johanna Gouws, Miiemie Muller, Dané Oosthuizen, Elizna Dempers. Voor: Hilda Kloppers. Foto: verskaf
Die Vaaldriehoek Kunstefees is in Augustus by verskeie skole in die Vaaldriehoek aangebied, nadat deelname in 2020 as gevolg van die Covid-pandemie tot stilstand gebring is.
Die kunstefees is sedert 2013 ‘n jaarlikse instelling. Dit bied ‘n platform aan jong kunstenaars van geaffilieerde skole.
Die klem lê op deelname en selfontwikkeling en nie op wedywering nie. Dit is ‘n féés.
Ongeveer die helfte van die geaffilieerde skole het onder streng Covid protokol, vanjaar deelgeneem.
Die organiseerders is oorweldig deur die positiewe terugvoer van deelnemers, wat nuwe inspirasie en motivering uit die ervaring geput het.
Leerders van alle ouderdomme getuig van die waarde wat positiewe aktiwiteite rondom die slyping van hul vaardigheide in die kunste, tot hul emosionele en geestelike welstand bydra.

Daar heers vanjaar veral, groot waardering vir die geleentheid wat deur toegewyde onderwyser-organiseerders van verskeie skole gekep is.
Hierdie vrywilligers dra die afgelope agt jaar by tot die sukses van die kunstefees.
Die Vaaldriehoek Kunstefees is ‘n gemeenskapsprojek wat afhanklik is van die samewerking van verskeie rolspelers in die onderwys.
Dit is met groot waardering en dank wat ons hierdie onbaatsugtige diens van opvoeders, wat die kunste en kultuur in skole wil bevorder, erken.
Die afdelings: Drama, Instrumentaal, Vokaal, Visuele kuns en Kreatiewe skryfwerk word aangebied.
Die Vaaldriehoek Kunstefees is bekend daarvoor dat slegs spesialis-kundiges as beoordelaars optree, om aan deelnemers, opbouende terugvoer te bied, om hul vaardighede te slyp.
Ons sien uit daarna om in 2022 nog groter te kan gaan en meer skole en volwasse deelnemers te betrek.
