Internasionale verhoog wink vir jong danser van Meyerton
Met Protea-kleure in vier dansstyle is die 12-jarige Lizay Koekemoer gereed om haar staal in Slowenië te wys.
MEYERTON – Sy het nog doeke gedra toe sy op tweejarige ouderdom begin dans het.
Nou het Lizay Koekemoer (12) Protea-kleure in vier dansstyle verwerf.

Dié jong inwoner van Meyerton gaan Suid-Afrika volgende maand by die International Dance Organisation (IDO) se wêreldkampioenskappe in Slowenië, verteenwoordig.
Die graad 6-leerder aan Saintsburg het haar kleure in jazz, kontemporêre dans, klassieke ballet en balletrepertoire verwerf — almal solodanse in die ouderdomskategorie vir dansers van 12 jaar en jonger.

Sy het Protea-kleure in vier dansstyle verwerf en gaan nou haar danspassie na die wêreldverhoog in Slowenië neem.
Die kleure is op 11 Oktober tydens die South African Body of Dance (SABOD) se Protea-oorhandigingseremonie by Irene Village Hall in Centurion uitgedeel.
Volgens haar ma, Zandri, moes dansers onder die beste drie in hul dansstyl en ouderdomskategorie by die nasionale kampioenskappe eindig om vir die span in aanmerking te kom.

Sy het Protea-kleure in vier dansstyle verwerf en gaan Suid-Afrika in November by die IDO-wêreldkampioenskappe in Slowenië verteenwoordig.
“Ek was baie opgewonde en trots toe ek hoor. Ek dans al vandat ek baie klein is, en dit beteken vir my baie om hierdie erkenning te kry,” sê Lizay.
“Ek is dankbaar vir my afrigters en my gesin wat my ondersteun.”

Deesdae oefen sy ses dae per week, soms sewe. Audrey Helberg van And u Dance Studio en Vanessa McElligott van EMD School of Ballet behartig onder meer Lizay se dansopleiding.
Haar program sluit ook hiphop, tuimel en Pilates in.
Lizay sê haar grootste uitdaging is om aan te hou wanneer sy ’n moeilike beweging of roetine nie dadelik regkry nie.
“Ek leer om geduldig met myself te wees en weer te probeer, al vat dit baie oefening.”
Haar geloof help haar om vas te byt.
“Ek dans vir Jesus en wil my liggie laat skyn waar ek ook al dans.”
Die kompetisiereeks in Slowenië begin op 21 November.
