EntertainmentLocal newsNewsNews

Ons maak ‘n ‘movie’

Twee joernaliste + een videokamera = 'n Prettige etensuur in 'n koffiewinkel vol mense!

My een niggie is ‘n onderwyseres wat graad 11’s moet help met beroepkeuses.

Hierdie jaar is daar wraggies twee wat reken joernalistiek kan vir hulle werk.

Soek sy toe ‘n joernalis om 20 vrae op video te antwoord en vir haar te stuur.

“Ek sal by my kollegas hoor,” laat weet ek, en boodskap vir Christiaan.

“Gawe idee,” sy antwoord, “jy praat en ek neem jou af.” By twee ander loop ek ook bloutjies. Nie aspris nie. Die lot is besig.

Eindelaas besluit ek om dit self te doen. Ek kontak weer vir Christiaan. Hy stem in om kameraman en regisseur te speel.

Ons afspraak is by ‘n restaurant oor etenstyd. Ek gewaar vir Christiaan by die ingang met ‘n gedoente op sy kop.

“Wat op dees aarde is daai?” bekruip ek hom.

“Kamera,” sê hy en skrik nie eens soos ek gehoop het hy sou nie.

“Ek neem jou af. Jy is live”, sê hy en glimlag.

Die kelner hoor hom. “You are filming me too?” vra hy en glimlag breed.

“Yes,” sê Christiaan, “we are making a movie.”

Die ander mense gaap ons aan, maar ons kyk hulle mis en kry ‘n tafel.

Christiaan vlieg eers weer om. “Kyk hierna. Bestel vir my ‘n warm cappuccino. Ek het die mikrofoon vergeet,” en woerts, weg is hy.

Ek neem intussen ‘n berig in die koerant af om vir ‘n vriend te stuur en onthou darem om die koffie te bestel.

Christiaan is terug voor die koffie op die tafel staan.

Vir ‘n wyle vergeet ons die groot projek en gesels eers kopstukke. Mekaar maande laas gesien.

Ons werk mos van die huis af. Koffiebekers is koud voordat ons weer van die video onthou.

“Gaan sit op die stoel by die hoek van die tafel. Lees eers die vraag en dan antwoord jy. Ek sal dit later intik”, deel hy opdragte uit.

Dit tref my skielik dat ons in die middel van ‘n besige restaurant is. “Oh jinne, die mense gaan dink ons is gek!”

Hy gee my ‘n kyk wat my laat onthou die mense dink maar altyd ons is gek.

Ek gaan sit waar ek opdrag gegee is om te sit. Selfoon in die hand – die vrae en antwoorde is daarop getik.

Christiaan maak die kamera met die grote mikrofoon staande op die tafel.

‘n Paar mense se monde val oop van verbasing. Hulle vergeet skoon om te kou.

Ons begin. By vraag vier besef ek skielik dis die verkeerde stel antwoorde.

Ek het twee leêrs na my foon gestuur en die verkeerde een oopgemaak.

“Wag eers. Stop. Verkeerde file”, beduie ek en soek naarstigtelik op my foon na die regte een. Ons gaan weer aan.

“Nee, wag stop!” keer Christiaan. “Jy druk op die tafel. Ek is bang die mikrofoon tel ‘n squeak op.”

Hy tel die kamera met staander en al op en hou dit vas. “Ons moet weer van vooraf begin,” verklaar hy.

Nog meer mense kyk vir ons. Ek voel my wange vlam, maar ek gaan dapper voort met die baie vrae in my beste Engels.

By vraag 11 loop ek my vas in tongknopers van die eerste water en my Afrikaanse brein weier om personality characteristics enigsins ordentlik uit te spreek.

Die verligting was groot toe al die vrae uiteindelik beantwoord is en ons iets te ete kon kry.

Later die aand kry ek die skakel na die video. “Kyk gou voor ek dit vir haar aanstuur,” boodskap hy.

Hy het dit baie professioneel gedoen. Selfs musiek by die intro gesit.

Amper op die einde was een van die vrae of mens finansieel onafhanklik kan wees in hierdie beroep. Ek het ja geantwoord.

My verbasing en lekker lag was groot toe die woorde “lie detected” skielik oor die skerm flits.

“Ons moes hulle net waarsku,” spot hy nadat hy die video aangestuur het.

Ons het ons deel gedoen, die leerlinge kan nou self besluit.

Een ding weet ek. Dit was vet pret, al het ‘n paar mense seker daardie dag by die huis gekom en gesê: “Jy sal nie glo wat ek vandag gesien het nie!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button