‘n Wille wragtag week… ehh jaar!
My siel kort kans om my lyf in te haal, maar nog is dit einde niet.
‘n Wyse tante het eendag vir my gesê sy hou daarvan om so ‘n kwartier voor die diens al haar sit in die kerk te kry. Dan kry haar siel kans om haar lyf in te haal.
Dit voel vir my ek wil ook nou al êrens net gaan sit en wag vir 2022 om te begin. My siel kans gee om my lyf in te haal.
Ek is altyd bietjie verstrooid, maar die tyd van die jaar raak dit erger.
Soos destyds toe ek só moeg was na my rekeningkunde vraestel in die eindeksamen, dat ek ingedagte met vraestel en al uitgeloop het!
Twee tree anderkant die deur my fout agtergekom en omgevlieg. Gelukkig het die onderwysers aan diens geweet ek sou nie kul nie en was hulle my genadig.
Ek en rekeningkunde was hoeka nie maats nie. Ek dink na meer as 30 jaar sit my velle in alle geval nog aan daai deurkom-draad vas.
Met die jare saam het die verstrooidheid gebly, veral as ek moeg word en/of onder druk is.
Hierdie jaar alleen het ek al twee keer by die huis gery sonder om my notaboek te vat.
Ek is nog ou-skool, voer onderhoude met notaboek en pen in die hand.
Die eerste keer toe dit gebeur het ek ‘n piepklein notaboek by ‘n winkel op pad gekry. Selfs die kassier het gewonder waar gaan ek nou met so ‘n ou boekie heen?
Maar die boekie het goed gewerk vir ‘n hele paar stories en het tog te gemaklik in my kamerasak gepas.
Dis nou tot laaste week toe ek weer so halfpad op pad na ‘n onderhoud besef, nie net lê my notaboek steeds op my lessenaar nie, maar my kamera wag ook verniet om uit die kas gehaal te word!
Omdraai kon ek nie, want die laaste keer wat ek te vroeg vir iets was, was my geboorte. Ek probeer regtig my tyd beter uitwerk.
Dis net, daar is altyd ‘n storie wat ek net gou wil klaar tik … ‘n Woordjie hier en ‘n woordjie daar en siedaar … ek’s laat.
Dié betrokke oggend het die twee jongmanne met wie ek onderhoud moes voer darem relatief (vir hulle) rustig gewag totdat ek gou eers ‘n notaboek by die winkel op die hoek gaan koop het.
Dankie vir slimfone wat foto’s kan neem! So my oggend en onderhoud was gered.
Maar ja, dis einde November, almal loop maar so half kop onderstebo en gedagtes op ‘n ander plek.
Ek sien my onderwysvriende se oë begin weer tekens van lewe toon en plek-plek slaan hul humorsin nog deur.
My een vriend laat weet hy was geheel verstom toe ‘n kind wat nooit opgelet het nie en ook net-net die paal gehaal het, vir hom ‘n koffiesakkie met ‘n koekie gee waarop staan: “I’m one smart cookie thanks to you.”
Nou wonder ons of die jonge dogter dit opreg bedoel het, sarkasties was of meer van ironie verstaan as wat ons ooit sal besef? Sela.
